Boulter se ouers angstig oor verblyfpermitte
Keurraad weier aansoek
“Daar is geen tydlyn vir wanneer die strafregtelike verrigtinge teen Harvey [Boulter] afgehandel sal word nie. Die immigrasie-keurraad poog om ons vir ’n onbepaalde tydperk, onredelik en onregverdig te laat wag, terwyl ons verswakte mense in ons 80ֹ’s en baie afhanklik van Harvey is.”
Só het Harvey Boulter se pa, Eric Arthur Boulter (82), in ’n verklaring gesê in ’n saak wat hy en sy vrou, Veronica (81), teen die voorsitter van die immigrasie-keurraad en die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit aanhangig gemaak het.
Dit volg nadat die bejaarde egpaar wat in die Verenigde Koninkryk (VN) woon, se aansoek vir permanente verblyfpermitte in Namibië afgekeur is en hulle aan die einde van verlede jaar ingelig is dat hul aansoek uitgestel word hangende die uitkoms van die strafregtelike verrigtinge teen Harvey.
In die Boulter-egpaar se aansoek versoek hulle dat die besluit om hul aansoek te weier, hersien en tersyde gestel word. Hulle soek ook ’n hofbevel wat die keurraad en ministerie verplig om vir hulle permanente verblyfreg te gee.
“Ons wil nie hê ons aansoek moet terugverwys word na die keurraad vir heroorweging nie. Die keurraad het bewys dat hy nie van plan is om permanente verblyf aan ons uit te reik nie,” beweer Eric in sy verklaring wat in Desember verlede jaar by die hof ingedien is.
Partye het gister voor regter Eileen Rakow in die hoërhof in Windhoek verskyn vir voorverhoorverrigtinge.
‘MOET ONSKULDIG GEAG WORD’
Eric en Veronica het in September 2022 aansoek gedoen vir permanente verblyfreg in Namibië en het in Februarie 2023 gehoor dit is afgekeur.
Daarna het die egpaar ’n aansoek om heroorweging ingedien en is in November verlede jaar ingelig dat die aansoek onsuksesvol was.
Die raad was aanvanklik nie tevrede dat die egpaar bewys het dat hulle permanent in Namibië wil woon nie, maar het ná die aansoek om heroorweging gesê hulle aansoek moet wag tot die strafregtelike verrigtinge teen Harvey afgehandel is.
“In die onwaarskynlike geval dat Harvey skuldig bevind word, kan die respondente vir Harvey as ’n verbode immigrant beskou wat op sy beurt ’n impak op ons permanente verblyfstatus kan hê, maar tot so onwaarskynlike tyd dat Harvey skuldig bevind word, kan ons nie van ons regte ontneem word nie.”
“Hulle neem en maak inbreuk op Harvey se grondwetlike reg om onskuldig geag te word totdat skuldig bewys is en neem ons regte weg soos vervat in die wet,” lui Eric se verklaring.
VEREISTES
Eric beweer verder dat daar ingevolge die wet sekere vereistes is vir ’n aansoek om te slaag en hy voer aan dat hulle aan dié vereistes voldoen het.
Volgens hom vereis die wet dat ’n aansoeker, soos in hulle geval, moet bewys dat hul bejaarde of verswakte ouers is van ’n persoon wat permanente verblyfreg in Namibië het en daardie persoon moet skriftelik onderneem om vir hulle te sorg.
“Dit opsigself is voldoende om die uitreiking van ’n permanente verblyfpermit te regverdig,” beweer Eric.
Hy voer verder aan dat die keurraad hulle aan vereistes onderwerp wat nie uiteengesit is in die bepalings van aansoeke vir permanente verblyfpermitte nie.
“Dit het duidelik geword dat die keurraad poog om ons aan ’n verskeidenheid hindernisse te onderwerp om vertragings te veroorsaak om nie ons aansoek goed te keur nie.”
WAAROM NAMIBIË?
Sedert Harvey se verhuising na Namibië en sy permanente verblyfpermit in 2017 aan hom uitgereik is, het sy ouers gereeld Namibië besoek en die begeerte gehad om permanent in die land te woon.
Eric voer in sy verklaring aan dat Harvey omsien na beide sy ouers se mediese behoeftes en dit vir hulle makliker is om dit in Namibië te doen.
“Ons het gevind dat gesondheidsorg in Namibië meer responsief en bekostigbaar is as in die VK.”
“Tydens ons besoeke aan Namibië het ons die Namibiese mense, die lewenswyse en die verskillende kulture begin waardeer.”
Tydens die aansoekproses het die keurraad bykomende inligting van Harvey versoek om te bewys dat hy vir sy ouers kan sorg.
Hy het hulle ingelig dat hy na bewering sewe eiendomme in die Am Weinburg-landgoed besit ter waarde van sowat N$50 miljoen en ’n verdere N$10 miljoen in die opgradering van die eiendomme belê het.
Hy het ook bewyse ingegee van die HB-familietrust wat in 2015 glo bates ter waarde van GBP44 miljoen ingesluit het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie