OPTIMISTIC: Harvey Boulter. PHOTO: The Times
OPTIMISTIC: Harvey Boulter. PHOTO: The Times

Boulter wil wapens aan weermag verkoop

Tanja Bause
Nuusredaksie – Die Britse miljardêr Harvey Boulter het sy voorneme bevestig om wapens aan die Namibiese regering te verkoop deur sy maatskappy SX Arms and Ammunition.

Hy het gesê geen ooreenkoms is egter nog bereik nie.

Besonderhede oor die transaksie is skraps, maar ons susterkoerant Namibian Sun verstaan die transaksie kan tot N$30 miljoen werd wees.

Boulter het na bewering ’n kwotasie – wat nie aangevra is nie – by die ministerie van verdediging en veteranesake ingedien waarin sy aanbod uiteengesit word.

Minister Frans Kapofi het gesê geen ooreenkoms is met Boulter se maatskappy gesluit nie en voeg by dat die ministerie tradisioneel verkies om sy grootmaat-wapenvoorrade direk van vervaardigers te koop.

Die ministerie verkies verder staatsbeheerde vervaardigers eerder as private entiteite, het hy gesê. Hy het nie die redes vir hierdie voorkeure verduidelik nie.

“Sover my kennis strek, het ons geen wapenkontrak met hom [Boulter] aangegaan nie. Wanneer ons produkte in klein hoeveelhede op ’n dringende basis benodig, kan ons ons na ’n private maatskappy wend vir verskaffing, maar vir enigiets wat miljoene dollars beloop, hou ons daarvan om direk met vervaardigers te werk en nie deur derde partye nie,” het die minister gesê.

OPTIMITIES

Boulter het gesê hoewel geen ooreenkoms bereik is nie, is hy optimisties oor sy aanbod.

“Ek is bewus van die intense mededingendheid van die wapenbedryf en die lang proses om verkope te verseker. Terwyl geen bestelling tot op hede met die Namibiese regering afgehandel is nie, bly ek optimisties,” het hy gesê.

Toe hy gevra is hoekom, het hy opgemerk: “Die kombinasie van ons uitmuntende produkte, gunstige pryse en die hoë etiese standaarde wat ons handhaaf, plaas ons in ’n gunstige posisie vir toekomstige geleenthede.

“Hierdie sakemodel maak voorsiening vir volumepryse, wat staatskliënte as uiters gesog beskou. Die resultaat is ’n dubbele voordeel vir Namibië; toegang tot die nuutste sekuriteitsprodukte teen pryse wat begrotingsvriendelik is.”

Oor aantygings dat hy ’n ongevraagde voorstel by die weermag ingedien het, het Boulter gesê: “Ek ken nie hul verkrygingsproses nie, en dit is hulle proses om te volg.”

GEEN AFSLAG

Namibian Sun verstaan dat SX Arms and Ammunition soortgelyke sake met ander sekuriteitsentiteite in Namibië gedoen het, maar Boulter het nie oor die bewerings uitgebrei nie.

“Elke vuurwapen wat verkoop is, is gekoop en daarvoor is betaal. Geen uitsondering, selfs met geen afslag nie,” het hy gesê en bygevoeg dat enige voorstel dat hierdie verkope onreëlmatig was “lasterlik” sou wees.

Kapofi het gesê hoewel die verkryging van wapens nie deur openbare verkryging gedoen word nie weens die sensitiwiteit van sekuriteit, is die interne proses deursigtig.

“Daar is prosesse wat ons volg, insluitend om kwotasies van verskeie vervaardigers aan te vra sodat ons die mededingendste prys kan kry.”

MOORDKLAGTE

Boulter (54), wat multimiljoendollar-beleggings in Namibië het, het in 2017 permanente verblyf in Namibië verkry.

Hy besit ’n eksklusiewe jagplaas naby Kamanjab en het ’n aansienlike belang in die Am Weinberg-landgoed. Hy is ook nou betrokke by lugvaart-, verdedigings- en militêre ondernemings.

Sedert 2021 beveg hy ’n moordklag ná die dood van sy plaasbestuurder Gerhard van Wyk (54), wat tydens ’n onderonsie by ֹ’n braai op die plaas geskiet is. Boulter het tot dusver volgehou dat dit ’n ongeluk was, en het maande in die hospitaal deurgebring ná die voorval waartydens sy hand beseer is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!