‘Buitelandse beleggings word verwelkom’

Kollig op President’s Links Estate
Die ministerie en NIPDB beoog om 'n Golden Visa-program te ontwikkel om buitelandse beleggers met vaardighede, kapitaal en ambisie na Namibië te lok.
Kristien Kruger
“Die ministerie verwelkom beleggings in Namibië en sal toepaslike permitte aan kwalifiserende buitelandse beleggers uitreik ingevolge nasionale wette en prosedures.”

So het die uitvoerende direkteur van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Ettiene Maritz, Dinsdag in ’n mediaverklaring gesê in reaksie op berigte en sosialemediaplasings rakende buitelandse beleggers in die nuwe President’s Links Estate op Walvisbaai.

Volgens Businesstech se webtuiste sal buitelandse beleggers “vir ’n minimum eiendomsbelegging van R5,74 miljoen in die nuwe luukse gholflandgoed, Presidents Links Estate op Walvisbaai, vyf jaar hernubare werkspermitte ontvang wat hulle in staat sal stel om in die land te woon en te werk.”

“Dit moet duidelik gemaak word dat die ministerie geen spesifieke maatskappy of projek bevoordeel nie,” lui die verklaring.

PROGRAM

Die voorsitter en uitvoerende direkteur van die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB), Nangula Uaandja , het ook Dinsdag ’n verklaring uitgereik ten opsigte van “verblyf deur belegging” en die President’s Links Estate.

“Die Verblyf deur belegging (RBI)-programme, ook bekend as die Golden Visa-program, is ’n manier om individue met ’n hoë netto waarde na ’n land te lok. Wêreldwyd het meer as 100 lande RBI-programme geïmplementeer en meeste bied permanente verblyf aan beleggers. Dit stel die beleggers en hul gesinne in staat om in die land te woon, te werk en te belê.”

Die ministerie en NIPDB beoog om ’n Golden Visa-program te ontwikkel om beleggers met vaardighede, kapitaal en ambisie na Namibië te lok.

“NIPDB en die ministerie werk nou saam om te verseker al die potensiële leemtes in die program word oorweeg en dat die kriteria vir die eiendomsontwikkelings wat vir RBI kwalifiseer, goed uiteengesit word voordat dit aan die kabinet voorgelê word vir goedkeuring.”

LANDGOED

Die stigters van die President’s Links Estate het die raad genader om ’n diens aan potensiële beleggers te lewer om beleggings te fasiliteer, luidens NIPDB se verklaring.

“’n Aanbeveling is aan die stigters gemaak om hangende die goedkeuring van die Golden Visa-program, beleggers te lok gebaseer op die bestaande wette en regulasies soos deur die ministerie toegepas word.”

Die landgoed het na bewering ’n totale beleggingswaarde van meer as N$4 miljard. Die projek sal glo meer as 2 500 tydelike werksgeleenthede skep, asook 1 300 permanente werksgeleenthede en sowat 700 laekostehuise in Namibië bou, buiten die huise wat op die landgoed gebou sal word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!