Digitale strategie in die kollig

Augetto Graig
Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie het gister ’n slypskool in die hoofstad aangebied om die Nasionale Digitaliseringstrategie vir 2024-’28 te bekragtig.

Die uitvoerende direkteur van die ministerie, dr. Audrin Mathe, het tydens die geleentheid gesê Namibië het ’n deurslaggewende punt in sy reis na digitale transformasie bereik.

“Deur ’n gefokusde visie vir ons digitale toekoms te skep, lê ons die grondslag om digitalisering vir welvaart te benut,” het hy aangevoer.

Die konsepstrategie wat voorgelê is, is gebaseer op ’n benadering wat die samelewing en regering insluit. Die plan neem die digitale landskap in ag en hoe gereed Namibië vir digitalisering is, asook om ’n visie vir die land se digitale toekoms te skep, ingrypings met ’n hoë impak te identifiseer, ’n padkaart vir implementering op te stel, en vir openbare veldtogte vir bewusmaking.

Namibië presteer redelik goed in terme van finansies, staatsbestuur en institusionele raamwerke, maar presteer egter ondergemiddeld in digitale infrastruktuur, mensekapitaal en innovasies vir digitale transformasies.

Die land is egter nie gereed om nuwe tegnologie aan te neem, of vir die ontplooiing, navorsing en die ontwikkeling van nuwe tegnologie nie. Die kundigheid en vaardighede vir nuwe tegnologie skiet ook tekort in die Namibiese samelewing.

Die strategie is saamgestel in samewerking met die Namibiese en Switserse vennootskap Impact Tank, die Verenigde Nasies se Accelerator Labs-organisasie, die Duitse regering en die Duitse Vereniging vir Internasionale Samewerking (GIZ).

Volgens die strategiedokument lys Namibië 103de uit 107 in terme van digitale lewensgehalte.

Ten spyte daarvan dat daar reeds vroeg in 2023 tot 2,81 miljoen geregistreerde simkaarte in die land was, bly die internet buite bereik van talle, met slegs ongeveer 51% van die bevolking wat toegang tot die internet het.

Een groot struikelblok is hoë datakoste wat in 2022 teen US$10,52 (N$190) vir 1GB gemeet is, in vergelyking met US$1,53 in Noord-Afrika en US$2,47 in westelike Europa.

Die uitbreiding en opdatering van Namibië se voorsieningsmeganisme vir universele dienste om te verseker dat meer Namibiërs toegang tot internetdienste het, vorm ook deel van die strategie.

Toegewings van ongebruikte wyeband-spektrum word oorweeg om kwesbare en afgeleë gemeenskappe te verbind. Die strategie beoog ook om die belasting en tariewe wat van toepassing is op noodsaaklike toestelle, te hersien.

Volgens die strategie moet Namibiërs toegerus word om tegnologie in die werkplek en in hul lewens te integreer om digitale vaardighede te bevorder. Digitale vaardighede moet ook gedurende werkstye aangeleer kan word.

Elke drie jaar moet ’n opname van nasionale digitale geletterdheid gemaak word om teen 2030 100%-geletterdheid onder Namibiërs te bereik.

Verder moet 70% van Namibiese leerlinge teen 2028 onderrig in inligtingstegnologie ontvang, met infrastruktuur daarvoor in 70% van Namibië se 1 722 staatskole, insluitend die nodige onderwysers.

Die regering beoog om een miljoen ure van aanlyn opleiding te voorsien, volgens die strategie. Verder moet 2 000 intreevlak-tegniese werksgeleenthede geskep word.

In terme van aanlyn staatsdienste beoog die strategie ’n kunsmatige intelligensie (AI)-stelsel vir toetsdoeleindes tussen 2025 en 2026 om in die middel van vanjaar na volgende jaar ’n AI- geïntegreerde diensportaal vir staatsdienste te vestig.

Altesaam 70% van alle rekords in die regering se besit moet teen 2027 digitaal opgeneem wees en binne ’n jaar en ’n half moet die regering 50% minder papierrekords hê.

Landsburgers se identiteit moet binne 18 maande digitaal geverifieer kan word. Veilige en universeel toeganklike digitale ID-stelsel word ook vir burgers teen 2028 beoog.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!