Die minister van industrialisasie en handel, Lucia Iipumbu. Foto argief
Die minister van industrialisasie en handel, Lucia Iipumbu. Foto argief

Dink groter, sê minister aan entrepreneurs

‘Die deelname van vroue is verblydend’
Die minister van handel het 'n beroep op plaaslike entrepreneurs gedoen om verby Namibië se grense te kyk.
Iréne-Mari van der Walt
Die minister van handel en nywerheidsontwikkeling, Lucia Iipumbu het plaaslike entrepreneurs gewaarsku om nie te klein te dink nie.

“Dit is so in ons koppe ingeprent – ons doen besigheid vir oorlewing en nie om te groei nie,” het sy gesê.

Sy het aan entrepreneurs gesê om nie die moontlike groeipotensiaal van hul besighede te onderskat nie.

“As jy elke oggend douvoordag opstaan om vetkoek te bak en dit by ’n konstruksieperseel gaan verkoop waar daar 20 mense is, en jy verkoop net jou 20 vetkoeke ongeag of jy 11:00 al klaar is, moet nie net 20 vetkoeke maak nie,” het sy gesê.

Iipumbu meen die inisiatiewe onder die vaandel van haar ministerie wat ten doel het om entrepreneurs se sakevernuf te slyp, is juis daarop gemik om dié denkwyse te verander.

“Ons probeer dit by hulle aanwakker dat hulle moet dink oor die moontlikheid vir groter winsmarges. As jy vetkoek maak, moet jy daaraan dink om uit te brei na koekbak en van koekbak tot uitvoer.”

Sy maan daarteen om tevrede te wees om van hand tot mond te lewe.

“Talle entrepreneurs dink as hulle net N$20 kan maak, dan is dit genoeg om 500 gram mieliemeel vir aandete te koop. Dink groter. Dink daaraan om na die volgende vlak te gaan. Volg ’n ander benadering en kry ’n groter perspektief,” het sy gesê.

Die minister het dié opmerkings gemaak tydens ’n mediakonferensie vir die hervestiging van die EMPRETEC-entrepreneurskapsprogram onder die vaandel van haar ministerie.

“Sulke programme is belangrik. As jy hierheen kom, was jy dalk besig met verkope en was jou daaglikse wins onder jou kussing, maar dalk hoor jy hier van iemand wat ’n spaarrekening oopgemaak het en dit verbreed jou denkwyse en jy doen dieselfde,” het sy gesê.

Wat die oorheersing van Suid-Afrikaanse produkte op die Namibiese mark betref, het Iipumbu gesê plaaslike sakelui moet daarna streef om deel te word van die waardeketting met betrekking tot die uitvoermark.

“Ons is ’n leier in vleisproduksie, Botswana in leerwerk, Suid-Afrika in farmaseutiese produkte en Eswatini in vars produkte; so het ons elkeen ons plek,” het sy gesê.

Die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram (UNDP) se verteenwoordiger in Namibië, Alka Bhatia, het opgemerk dat die meerderheid van die deelnemers aan die program vroue is.

“Die deelname van vroue is verblydend, maar die feit dat hier hoofsaaklik vroue is, is iets waaraan ons moet werk. Die grondslag van ontwikkeling is geslagsgelykheid en dit is iets wat besig is om in Namibië te gebeur – seuns en mans word agtergelaat en afgeskeep. Vroue word ekonomies bemagtig, wat natuurlik wonderlik is, maar mans word agtergelaat,” het sy gesê.

Bhatia het verder gesê: “Suid-Afrika is baie teenwoordig hier, want hulle het ’n baie groot private sektor waaraan hulle al jare werk. Dit is hoekom Namibië ’n private sektor nodig het wat dinamies en lewendig is. Daarom is dit baie opwindend dat daar moontlikhede is vir Namibië om tot waardekettings op streekvlak by te dra,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!