Emma takel kubermisdaad
Namibië se reaksiespan vir kubervoorvalle en verwante webwerf word môre bekend gestel.
Salt Essential IT sal voortaan elke Vrydag tussen 10:00 en 11:00 gratis en aanlyn opleiding vir kuberveiligheid aanbied.
Namibiërs word aangemoedig om op hul hoede te wees, ongemagtigde skakels te vermy en nooit hul bankbesonderhede te deel nie.
“Ons is in die middel van ’n opwindende digitale revolusie. Alhoewel die geleenthede groot is, is die risiko’s ook groot,” sê Emma Theofelus, die minister van inligting en kommunikasietegnologie.
Volgens 2024-statistieke is nagenoeg 704 000 Namibiërs op Facebook, Instagram, Tiktok en X (voorheen Twitter) aktief en hoewel dié internetplatforms kommunikasie, die deel van inligting en deelname aan demokratiese prosesse omskep, “het dit ongelukkig ook instrumente vir kwaadwillige rolspelers geword,” het Theofelus verlede week in die parlement gesê.
Sy het ’n ministeriële voorlegging oor kubermisdaad en regeringsingrypings Woensdag gelewer.
Theofelus sê die toename in kunsmatige intelligensie (AI)-tegnologie wat in daaglikse kommunikasiestelsels gebruik word, het gelei tot ’n skerp toename in swendelary, sintetiese media, “deepfakes” en digitale misleiding, “wat niksvermoedende Namibiërs teiken”.
“Hierdie kubervoorvalle hou ’n ernstige bedreiging in, nie net vir ’n individu se privaatheid en finansiële sekuriteit nie, maar ook vir ons nasionale vertroue en die eenheid van ons samelewing,” sê sy.
Aangesien nuwe wetgewing nog nie aanvaar is nie, maak Namibië staat op bestaande wette soos die wet op elektroniese transaksies, die wet op kommunikasie en bepalings wat ingevolge die strafkode gemaak word om AI-misdaad te ondersoek en te vervolg, sê sy.
Daar word gewerk aan die konsepwet op kubermisdaad, die konsepwet op die beskerming van data, die konsepwet op kunsmatige intelligensie en ’n gids om verwante prosesse in pas te bring met die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) se aanbevelings, tesame met wetgewing vir inhoudsgeloofsbriewe (content credentials legislations), sê sy.
“Nietemin noodsaak die dinamiese aard van opkomende tegnologieë ’n meer pasgemaakte en vooruitskouende regulatoriese benadering,” sê sy.
Theofelus het die afgelope ses maande aan vergaderings met kommunikasieministers van oraloor Afrika deelgeneem, waar die gemeenskaplike uitgangspunt ooreengekom is; dat AI vir openbare belang gebruik moet word.
’n Streekwye regsinstrument word oorweeg wat hierdie benadering na elke staat van die Afrika-unie, insluitend Namibië, sal afdwing, brei sy uit.
Intussen werk die ministerie volgens haar saam met wetstoepassers om onlangse voorvalle te ondersoek.
“Ons werk nou saam met diensverskaffers in telekommunikasie en die banksektor om kwaadwillige rolspelers op te spoor en beleide vir kubersekuriteit oor ons digitale infrastruktuur te versterk.”
Theofelus sê die gebruik van AI se sintetiese media maak dit makliker vir skelms om hoë gehalte en oortuigende vals video’s, foto’s en boodskappe vinniger en goedkoper te vervaardig.
“Dit hou ’n beduidende risiko vir openbare vertroue in, veral wanneer fopnuus as wettige instellings of bekendes vermom word,” sê sy.
Maatreëls wat deur die ministerie geneem is, sluit in die oorweging van ’n nasionale stelsel vir die verifiëring van inligtingsbronne, wat burgers in staat sal stel om die geloofwaardigheid van enige inligting te bepaal.
’n Openbare veldtog word beplan om burgers bewus te maak van die gevare van fopnuus, waninligting en vals inligting, met inhoud in inheemse tale en die gebruik van gemeenskapswerkwinkels, bekendes en sosiale media, sê sy.
Die ministerie bevorder ook digitale geletterdheid landswyd, wat nou ook verantwoordelike gebruik van AI en die voorkoming van AI-verwante skade insluit.
Daar word ook aan ’n nasionale digitale geletterdheidsraamwerk gewerk, sê sy.
Enige materiaal van seksuele misbruik van kinders moet by die nasionale portaal aangemeld word, wat deur die Internet Watch Foundation, die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) en Lifeline/Childline aanlyn gebring is, volgens die minister.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie