Geen brandstof, bote beskikbaar

Kavangorivier onbeskermd teen stropers
Lodge-eienaars kla sommige visinspekteurs stel glo eerder meer in "bewusmakingsveldtogte" belang as in daadwerklike optrede teen wetsoortreders.
Elvira Hattingh
Terwyl hengelaars met onwettige monofilamentnette na bewering vrye teuels op die Kavangorivier het, bedreig die versuring van verhoudinge tussen visinspekteurs en sommige private lodge-eienaars die laaste pogings om enige beheer uit te oefen.

Amptenare van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne is glo weens begrotingstekorte totaal aangewese op private persone vir voertuie, brandstof en bote om die rivier te beskerm.

Lodge-eienaars kla sommige visinspekteurs stel glo eerder meer in “bewusmakingsveldtogte” belang as daadwerklike optrede teen wetsoortreders.

Navorsing toon visreserwes in die rivier is op die rand van uitwissing, met net tussen 3% en 10% visse wat oor is.

’n Hewige debat is verlede week tussen lodge-eienaars en visinspekteurs op die Kavango River Care Group gevoer, met inspekteurs wat gevolglik deur groepslede verwyder is.

VERANTWOORDELIKHEID

Mark Paxton, die eienaar van die Shamvura Camp, sê lodge-eienaars langs die rivier is meer as gewillig om te help om die rivier te beskerm aangesien hulle ’n lewensbestaan daaruit maak.

Volgens hom blyk plaaslike visinspekteurs “onwillig en onopgelei” te wees en hou nie daarvan as private persone meer daadwerklike optrede verwag nie.

Paxton sê inspekteurs is glo huiwerig om die wet toe te pas, omdat dit hulle ongewild onder plaaslike gemeenskappe maak.

Dié wat met monofilamentnette visvang, weet glo dit is onwettig, maar hou aan omdat daar geen gevolge is nie.

Visinspekteurs kla glo gedurig van ’n tekort aan voertuie, brandstof en bote.

“Ons is bereid om te help, maar die inspekteurs wil dit op hul eie terme doen,” sê Paxton.

RISIKO

Paxton sê hy en nog twee ander aangrensende lodges span saam om die rivier voor hulle vry van nette te hou.

“Ons gebruik ons eie hulpbronne om wetstoepassingsaktiwiteite uit te voer. Dis ’n groot risiko vir ons en ons ontvang min ondersteuning van die polisie, die visserye- of omgewingsministerie.”

Plaaslike visinspekteurs is volgens hom ook bevooroordeeld teenoor wat hulle as bestaanshengel beskou.

Talle skuil onder die vaandel van bestaanshengel, terwyl dit reeds die punt bereik het waar kilogramme vis met nette gevang en verkoop word, sê hy.

Visbewaringsgebiede, soos die Sekunda-gebied in die Zambezirivier, waarvan daar tans twee in die Kavangorivier gevestig is, is ’n goeie inisiatief en dit werk volgens hom, maar is tans nog klein.

Volgens Paxton is die toerismebedryf is bereid om by so iets betrokke te raak.

ONNODIG

Uaripi Katjiukua, die woordvoerder van die ministerie, sê dit is teleurstellend dat die visinspekteurs aan sulke vyandigheid deur lede van die gemeenskap en sake-eienaars onderwerp word. Sy het na gesprekke in die sosiale media verwys.

Volgens haar kan geen land sê dit ervaar geen gevalle van onwettige visvangaktiwiteite nie.

“Die ministerie gaan voort om alle beskikbare hulpbronne te ontplooi om seker te maak dat ons visinspekteurs, tesame met wetstoepassers, voortgaan met patrollies en om toe te sien dat vissers aan die wet voldoen.

“Ons amptenare werk hard en kom hul verpligtinge na, midde talle uitdagings. Daar behoort beter begrip vir hulle te wees. Die uitwissing van onwettige visvangaktiwiteite is ’n reusetaak wat nie deur die ministerie alleen gedoen kan word nie.

“Dit sal die deelname van alle geraakte partye en groepe vereis en die samewerking is slegs moontlik waar daar wedersydse respek en begrip bestaan – nie ’n geboelie en intimidasie nie,” het Katjiukua gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!