Die Namibië Landbou-unie (NLU) verwelkom die kabinetsbesluit oor die geleidelike verwydering van die veeartsenykordonheining. Foto Argief
Die Namibië Landbou-unie (NLU) verwelkom die kabinetsbesluit oor die geleidelike verwydering van die veeartsenykordonheining. Foto Argief

Geleidelike verwydering van Rooilyn goedgekeur

NLU verwelkom kabinetsbesluit
'n Landboukenner is van mening die enigste gebied waar dit prakties en realisties moontlik is om die veeartsenykordonheining te verskuif, is die Sesfontein-gebied in die Kunenestreek.
Francoise Steynberg
Die kabinet het die geleidelike verwydering en beperkings van die veeartsenykordonheining, ook bekend as die Rooilyn, Woensdag goedgekeur.

’n Landboukenner meen egter dit is drome wat nie bewaarheid kan word nie.

Volgens die kabinetsbesluit is die ministerie van landbou, water en grondhervorming opdrag gegee om ’n uitvoerbaarheidstudie oor ’n tydperk van twee jaar vir die finansiële jare 2024-’25 en 2025-’26 te doen.

Die beraamde begroting van die uitvoerbaarheidstudie moet tydens die oorsig van die middeltermynbegroting bepaal en aan die tesourie voorgelê word vir goedkeuring.

Siektevrye sones moet oor ’n tydperk van vyf jaar vanaf 2027 tot 2032 gevestig word deur die konstruksie van veeartsenyheinings en nuwe -hekke, asook die werwing van bykomende personeellede en konstruksie van personeelbehuising.

Dit volg nadat landbouminister Calle Schlettwein middel Augustus by die Aminuis Skou planne aangekondig het om die Rooilyn verder noordwaarts te verskuif.

Die Namibië Landbou-unie (NLU) verwelkom “die sinvolle proses wat die kabinet voorgestel het”.

Die president Thinus Pretorius het op navraag van Network Media Hub (NMH) gesê die NLU is ten gunste van die integrasie van die huidige voorgestelde siektevrye sones in die hoofstroom ekonomie van Namibië, “mits dit nie die huidige protokolle en bilaterale ooreenkomste met ons handelsvennote bedreig nie en ons aan die vereistes van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) voldoen”.



GEïDENTIFISEERDE GEBIEDE

Volgens die kabinetsbesluit moet fondse verseker word vir die voorgestelde vestiging van siektevrye sones in die geïdentifiseerde gebiede wat die Mangetti-gebied insluit: Karikubis in die Kavango-Oosstreek, die Tsumkwe-kiesafdeling in Otjozondjupa, Mangetti-Oos-plase in die Kavango-Wesstreek, Mangetti-Wes- en Onalusheshete-plase in die Oshikotostreek, die Ombuga-gebied in Oshana, die Omutambo Maowe-gebied in Omusati en die Sesfontein-gebied in die Kunenestreek.

Die bekende plaaslike landboukenner Wallie Roux het gesê dit is goed dat daar ’n uitvoerbaarheidstudie gedoen gaan word.

Hy is egter skepties oor die implementering daarvan: “Dit is edel woorde wat eers bewys moet word en daar moet nie drome geskep word wat nie kan waar word nie.”

Roux meen die enigste gebied waar dit prakties en realisties moontlik is om die veeartsenykordonheining te verskuif, is die Sesfontein-gebied in die Kunenestreek.

“Die ander gebiede gaan miljoene Namibiese dollars kos om te implementeer,” het hy bygevoeg.

Schlettwein het destyds by die Aminuis Skou gesê “ons het ’n siektevrye sone, en ’n sone wat nie siektevry is nie, maar ons ambisie is om daardie sone so gou as moontlik ook siektevry te maak.

“Ons het die proses begin om die volgende stap te neem om ’n deel van die veeartsenykordonheining verder noordwaarts te skuif, nie presies na die grens tussen Namibië en Angola nie, maar om gebiede in te sluit wat vir ’n aantal jare siektevry is.”

Die minister het verwys na bek-en-klouseer, maar Roux is van mening dat “Angola nie belangstel nie”.

Die Affirmative Repositioning (AR)-leier, Job Amupanda, het ’n saak in die hof aanhangig gemaak in ’n poging om die Rooilyn te verwyder. Die landbouminister en destydse Vleisraad staan dit teen. Amupanda meen dat die heining ongrondwetlik is en dat enige beslaglegging van rooivleis by die heining onwettig is.

Die kabinet het ook die uitbreiding van kommunale gebiede van Ovitoto, Otjimbingwe en Aminuis goedgekeur ingevolge die Wet op Kommunale Grondhervorming no. 5 van 2002.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!