Voertuie en bates waarop daar deur toepas van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) beslag gelê word, word nie op die fonds van beslagleggings op bates betrokke by kriminele aktiwiteite se bateregister aangedui nie.
Foto argief
Voertuie en bates waarop daar deur toepas van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) beslag gelê word, word nie op die fonds van beslagleggings op bates betrokke by kriminele aktiwiteite se bateregister aangedui nie. Foto argief

Herwinningsrekening vir kriminele bates ‘in chaos’

Ouditeur-generaal op soek na bateregister
Rekening groei glo met N$10 miljoen in die boekjaar tot Maart 2023.
Augetto Graig
Die boeke van die staat se kriminele bates-herwinningsfonds is in ’n ongunstige toestand, luidens ’n ouditverslag vir die boekjaar tot 31 Maart 2023.

Die ouditeur-generaal, Junias Kandjeke, se mening is verlede week in die parlement ter tafel gelê. Die ouditverslag is gebaseer op die inkomstestaat en die balansstaat soos verskaf deur die rekenpligtige beampte van die fonds, dr. Johannes Shimaneni.

Volgens Shimaneni se aanvanklike inligtingvoorlegging staan die fonds se totale bates op N$61 653 849,16 vir die boekjaar, teenoor N$52,8 miljoen in die vorige boekjaar.

Die fonds se bankrekening het met byna N$10 miljoen – van N$49,68 miljoen tot N$59,31 miljoen – gegroei.

Die totale inkomste is meer as N$9,8 miljoen, terwyl uitgawes van meer as N$1 miljoen aangeteken is; onder meer N$298 668 vir reiskoste en N$418 060 vir verblyftoelaes.

In die vorige boekjaar 2021-’22 is die grootste uitgawes vir bankfooie (N$533 044,32) en regskoste (N$693 130) aangeteken, teenoor N$1,24 miljoen se totale verliese wat gely is.

Kandjeke se verslag lui egter: “Na my mening is die rekeninge van die fonds wanvoorgestel of verkeerd gestel, en weerspieël dit nie die kriminele bates-herwinningsfonds se finansiële transaksies akkuraat nie.”

Die ouditeur-generaal sê Shimaneni het nie vaste bates en voertuie op die fonds se balansstaat bekend gemaak nie.

Die oudit het bevind dat die voertuigbateregister nie die openingsaldo, beslagleggings of veilings of sluitingsaldo bevat nie.

Die ministerie van justisie het onderneem om die bateregister vir die finansiële jaar 2024-’25 op datum te bring.

Verder is ’n register van vaste bates ook nie verskaf nie en die ouditeur-generaal beveel aan dat eiendom wat deur die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca) bekom word, by die aktekantoor aangemeld en op die register aangeteken word.

Kandjeke sê ook dat die bestuur van die fonds nie aan die vereistes van die wet op staatsfinansies, Poca, die wysiging aan die wet op openbare verkryging en sy regulasies, en die betrokke instruksies van die tesourie voldoen nie.

Kandjeke is glo ontevrede dat die uitvoerende direkteur van justisie, Gladice Pickering, sy navrae beantwoord het en nie Shimaneni nie.

Shimaneni is in September 2021 in dié rol aangestel toe dit in die Staatskoerant no. 7647 gepubliseer is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!