Foto ter illustrasie, Pexels/Ekaterina Bolovtsova
Foto ter illustrasie, Pexels/Ekaterina Bolovtsova

Inkomstedrempel vir regshulp word verhoog

Ontvang begroting van N$35 miljoen
Die ministerie van justisie is gereed vir die toename in aansoeke om regshulp nadat die vereistes hiervoor gewysig is.
Iréne-Mari van der Walt
Die ministerie van justisie sê sy begroting van N$35 miljoen vir die finansiële jaar sal voldoende wees om die verwagte toename in regshulpaansoeke te ondersteun.

Dit nadat die ministerie aangekondig het dat die maksimumdrempel om vir regshulp te kwalifiseer van N$3 500 tot N$7 000 in maandelikse inkomste gaan styg.

“Dié verhoogde drempel sal meer behoeftige litigante in staat stel om toegang tot geregtigheid te kry aangesien meer mense op die staat se koste vir regshulp sal kwalifiseer,” het die ministerie se waarnemende woordvoerder, Edmund Khoaseb, gesê.

Hoewel daar tans geen skatting is van die aantal Namibiërs wat nou vir regshulp kan kwalifiseer nie, verwag die ministerie ’n merkbare toename in die aantal aansoeke om regshulp.

Juis daarom is die ministerie tans besig om meer prokureurs aan te stel om aan die vraag te voldoen en word daar ook aandag gegee aan die versterking van die regshulpdirektoraat se siviele afdeling om sake met ’n sosioëkonomiese impak aan te pak.

“[Die ministerie] beplan ook om in die volgende boekjaar assistent-prokureurs aan te stel om na strafsake in die landdroshowe om te sien,” sê Khoaseb.

Die ministerie van justisie sal ook kragte saamsnoer met die Universiteit van Namibië (Unam) se regshulpkliniek, wat gereeld regshulpdae aanbied waar lede van die publiek regsadvies kan kry.

Die ministerie het ook ’n Memorandum van Verstandhouding (MoU) met die Regsvereniging van Namibië (LSN) onderteken waarin hulle onder meer onderneem het om data en hulpbronne te deel.

Die prokureur Milton Engelbrecht meen daar is tans genoeg regshulpprokureurs beskikbaar om die aantal sake te hanteer wat na verwagting nou sal toeneem.

Hy verduidelik egter dat jong gegradueerdes nie eerste oorweeg sal word met die aanstelling van bykomende regshulpprokureurs nie.

“Hulle gaan eers na ondervinding kyk. En dis nie vinnig om as ’n regshulpprokureur te kwalifiseer nie. Jy moet eers ’n sekere aantal sake in die landdroshof behartig voor jy kan kwalifiseer om sake in ’n streekhof te behartig,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-09-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Real Valladolid 1 vs 2 Mallorca | Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano SerieA: AC Milan 3 vs 0 Lecce European Championships Qualifying: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town English Championship: Plymouth Argyle 3 vs 1 Luton Town #N/A #N/A #N/A