Jagluiperds bly vir eers tuis

Nika en Zhandile
Ingrid Nolte het 'n appèlaansoek teen die hoërhof se uitspraak gebring in die hoop om die twee jagluiperd-wyfies op haar plaas te hou.
Kristien Kruger
“Wat die ministerie aan my katte wil doen, is wreed, onmenslik en onnodig. Nika en Zhandile is gelukkig en goed versorg op ons plaas. Die band wat ek met Nika en Zhandile het, kan mens nie verwoord nie.”

Dít het Ingrid Nolte, die vrou wat die afgelope vyf jaar twee jagluiperd-wyfies op haar plaas naby Keetmanshoop grootgemaak het, by monde van haar regsverteenwoordigers gister aan Republikein gesê.

Ná vrese dat die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme verlede week die twee jagluiperds, Nika en Zhandile, van Nolte en haar man se plaas sou verwyder om hulle na ’n nasionale park te verskuif, is daar intussen besluit dat Nika en Zhandile by Nolte sal bly hangende die aansoek om appèl wat verlede Maandag by die hof ingedien is.

Nolte en haar regspan teken appèl aan teen regter Collins Parker se uitspraak waarin hy ten gunste van die ministerie beslis het in die saak waarin Nolte die hoërhof in Windhoek versoek het om die ministerie se besluit – om haar aansoek om die twee jagluiperds aan te hou, af te keur – te hersien en ter syde te stel.

Parker het beslis die minister se besluit om die aansoek te weier, was billik en redelik. Hy het in sy aansoek daarop gewys dat Nolte glo die welpies vir byna drie maande aangehou het voordat sy vir die vereiste permit aansoek gedoen het. Sy kon ook nie bewyse lewer dat sy die jagluiperds wettig bekom het nie.

Kenners meen dat Nika en Zhandile nie die skuif na ’n nasionale park sal oorleef nie.

“Dit is vir my hartverskeurend dat die ministerie my twee kinders wil kom haal. Ek het hulle aan die lewe gehou as twee weke oue babas en versorg hulle al vir die laaste vyf jaar,” het Nolte gesê.

‘NIKS ERGERS’

Nolte wys verder daarop dat hulle die laaste 25 jaar met jagluiperds werk en na bewering hul deel doen om dié bedreigde spesie te beskerm. Hulle volg glo ook altyd die relevante wetlike vereistes.

“Die omgewingsministerie het vier jaar geneem om my aansoek vir permitte te oorweeg, en gesê die katte moet in my besit bly tot die besluit geneem is.

“Nou, vyf jaar later, wil hulle my katte skuif na ’n plek waar hulle definitief dood sal gaan – ek kan aan niks ergers dink nie,” het Nolte gesê.

Nolte se laaste hoop is dat die hoërhof se beslissing op appèl omgekeer word om te verhoed dat die ministerie vir Nika en Zhandile sal wegneem.

“Ons sit ons vertroue in die regstelsel en glo dat die appèl suksesvol sal wees.”

Navrae aan die ministerie was teen druktyd nog onbeantwoord.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!