Die kommissaris van die Namibië Inkomste-agentskap, Sam Shivute. Foto argief
Die kommissaris van die Namibië Inkomste-agentskap, Sam Shivute. Foto argief

Jan Taks dalk uit N$400 miljoen gekul

Kristien Kruger
Ellanie Smit – Terwyl ondersoeke na ’n reuse-bedrogspul met betrekking tot die terugbetaling van inkomstebelasting voortduur, kan die betrokke bedrag sowat N$400 miljoen beloop.

Dit is volgens die kommissaris van die Namibië Inkomste-agentskap (NamRA), Sam Shivute, wat byvoeg dat die aantal mense wat by die beweerde bedrogspul betrokke is, nou byna 1 000 is, terwyl die huidige bedrag op N$136 miljoen staan. Hy sê dit is slegs vir persoonlike inkomstebelasting. NamRA het glo ook ’n span wat bedrog in verband met die terugbetaling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) ondersoek.

Hy het dié onthullings op ons susterkoerant Namibian Sun se The Agenda-program gemaak wat Sondagaand uitgesaai is. Shivute het ook belastingaangeleenthede en die agentskap se pogings aangeraak om skuiwergate toe te maak om die invordering van inkomste te optimaliseer.

Dit het verlede maand aan die lig gekom dat NamRA belastingbedrog van ongeveer N$15,2 miljoen ontbloot het en dié bedrag het sedertdien tot N$104 miljoen opgeskiet.

In daardie stadium is gedink dat minstens 122 belastingbetalers – individue, sommige belastingkonsultante en NamRA-personeellede – saamgespan het om Jan Taks te bedrieg. Ondersoeke het aangedui dat die betrokke terugbetalings terugstrek tot 2019.

Die bedrieglike eise is glo hoofsaaklik gemaak deur individue wat ’n salaris ontvang het en oorgeskakel het na voorlopige belastingbetalers.

Individuele voorlopige belastingbetalers is werknemers met ’n ekstra inkomste, direkteure van maatskappye of selfstandige werknemers.

Verskeie individuele belastingbetalers se profiele is glo verander – meestal deur verteenwoordigers of boekhouers – na voorlopige belastingbetalers, wat die terugbetaling van inkomstebelasting tot gevolg gehad het.

MEER EN MEER

“Die bedrag het net aanhou groei. Ons het eers met sowat N$15 miljoen begin en slegs sewe instansies was betrokke.”

Shivute het gesê daar is nou meer as 56 instansies betrokke.

“Hier praat ons van verskillende staatsministeries, jy praat van verskillende private sektore, terwyl die aantal betrokke individue tot sowat 1 000 toegeneem het.”

Hy het verder gesê hulle kon tot dusver vasstel dat die totale bedrag wat van die regering gesteel is, nou sowat N$136 miljoen beloop.

“Soos die ondersoek voortduur, sal daardie bedrag tot N$400 miljoen toeneem. Ek is 100% seker daarvan. Maar wat mense moet weet, is dat dit net bedrog van inkomstebelasting insluit. As jy na terugbetalings van inkomstebelasting kyk, dit maak net 5% uit van die totale terugbetalings wat ons betaal, want 95% van terugbetalings is BTW en ons doen terugbetalings tussen N$6 miljard en N$7 miljard per jaar.”

“So, met hierdie saak maak ons vordering en meer as 50 sake is reeds by die polisie aanhangig gemaak.”

Shivute het gesê hulle is besig om ’n span te identifiseer om ook BTW-bedrog te ondersoek.

“Daardie bedrog sal ook miljarde insluit.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!