Die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, Utoni Nujoma. Foto Verskaf
Die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, Utoni Nujoma. Foto Verskaf

Kleiner besighede kry blaaskans met verslag

Beleid oor regstellende aksie
Ondernemings met minder mense in diens, moet nou 'n verkorte jaarlikse regstellende aksie-verslag indien.
Kristien Kruger
Die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping het onlangs bekend gemaak dat werkgewers met tussen 10 en 19 werknemers ’n verkorte regstellende aksie-verslag moet indien en nie aan die sperdatum van 15 Maart 2024 hoef te voldoen nie.

Die huidige wet op diensbillikheid vereis dat alle werkgewers wat meer as 10 werknemers in diens het, jaarlikse regstellende aksie-verslae by die Diensbillikheidskommissie moet indien. In die verlede moes slegs werkgewers met meer as 25 werknemers dié verslae indien, maar sedert September 2022 is hierdie drempel na 10 werknemers verlaag.

Die ministerie het verlede week in ’n mediaverklaring klaarheid aan werkgewers verskaf oor die inhandiging van die betrokke verslag.

“Sedert 15 September 2022 is die wet nou van toepassing op alle werkgewers wat meer as 10 werknemers in diens het. Die nuut geïdentifiseerde werkgewers het 18 maande vanaf die datum van die kennisgewing voordat hulle hul eerste regstellende aksie-verslag moet indien en dus word die voorleggings op 15 Maart 2024 verwag.”

Die ministerie het egter besluit dat werkgewers wat tussen 10 en 19 werknemers in diens het, nie aan die huidige sperdatum hoef te voldoen nie.

“Ingevolge ’n beleidsbesluit, sal werkgewers wat tussen 10 en 19 werknemers in diens het tot verdere kennisgewing nie vereis word om die verslag op 15 Maart 2024 in te dien nie. Ten opsigte van hierdie werkgewers moet spesifieke reëlings en datums vir die indiening van die eerste regstellende aksie-verslag gemaak word. Hierdie datums kan slegs verskaf word nadat die konsultasieproses oor die aard en inhoud van die verslag afgehandel is,” lui die verklaring.

VERKORTE FORMAAT

Werkgewers met tussen 10 en 19 werknemers sal verder ook verwag word om slegs ’n verkorte weergawe van die verslag by die Diensbillikheidskommissie in te dien in plaas van die huidige volledige verslag wat werkgewers met meer as 20 werknemers moet indien. Die verkorte formaat is, volgens die verslag, nog onder bespreking.

TUSSEN 20 EN 24

Die ministerie wys daarop dat die datum van 15 Maart 2024 nie noodwendig van toepassing is op alle werkgewers in die kategorie van 10 tot 24 werknemers nie, aangesien baie werkgewers reeds die kommissie genader het vir vrystellings wat meestal vir verkrygingsdoeleindes toegestaan is. Ingevolge hierdie vrystellings word spesifieke indieningsdatums vir werkgewer verskaf.

“Hierdie proses van vrystelling is steeds aan die gang en werkgewers word van ’n datum voorsien op grond van wanneer aansoeke gedoen word,” lui die verslag.

Werkgewers wat 25 en meer werknemers in diens het, moes reeds hul verslae indien.

“Alternatiewe reëlings moet getref word vir diegene wat nog nie hul verslae ingedien het nie.”

VRYSTELLING

Die aansoeke vir vrystellings moet voor 15 Maart 2024 gedoen word.

Die vorms vir die aansoek om vrystelling is by die Kommissie vir Gelyke Indiensneming (EEC) beskikbaar en moet ook by hul kantoor ingedien word. Vorms moet met ’n goedkeuringsbrief van die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) vergesel word.

“Daarna sal die kommissie sy motiveringsbrief voltooi wat saam met die vorm en goedkeuringsbrief aan die minister gestuur word. Werkgewers kan die vrystelling binne vyf werksdae by die EEC afhaal.

Volgens die verslag verskil die geldigheidsdatum vir vrystellings op grond van wanneer die aansoeke ontvang word.

“Die kommissie reik tans datums vir November 2024 uit en sal op die trant voortgaan.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!