Die minister van justisie, Yvonne Dausab, voer aan dat 'n gebrek aan hulpbronne en die houding van staatsamptenare teenoor hul werk die staat se dienslewering belemmer. Foto Iréne-Mari van der Walt
Die minister van justisie, Yvonne Dausab, voer aan dat 'n gebrek aan hulpbronne en die houding van staatsamptenare teenoor hul werk die staat se dienslewering belemmer. Foto Iréne-Mari van der Walt

Lae moraal kniehalter glo justisieministerie

Die ministerie van justisie wil vanjaar glo poog om sy werknemers se moraal 'n hupstoot te gee.
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt – Hoewel die minister van justisie, Yvonne Dausab, sê haar ministerie sal vanjaar poog om lae moraal wat glo dienslewering beïnvloed, te takel, meen sy dat staatsamptenare nie hul werk waardeer nie.

“Ek dink die feit dat van die mense wat by staatsinstansies werk, nou al té lank daar is, is ’n uitdaging. Mense wat te lank daar werk het al gewoond aan hul werk geraak en baie staatsamptenare aanvaar hulle werk as vanselfsprekend,” het sy gesê.

Sy raai egter lede van die publiek aan om amptelike kanale te volg wanneer hulle ontevrede met staatsdienste en -instansies is.

“Ons het gevestigde klagtestelsels in plek en hulle moet dié kanale volg. Ek as ’n minister kry baie kritiek van die publiek – wat ek verstaan deel van my werk is – maar ons moet regdeur ministeriële kanale krities wees en ons probleme takel,” het sy gesê.

Dausab het verder gesê dat Namibiërs hul reg om te kla moet uitoefen.

“Die publiek oefen min druk op ministeriële beamptes uit. Druk word eintlik net op mense in hoër posisies geplaas,” het sy gesê.

Die ombudsman van Namibië, Basilius Dyakugha, het ook gesê dat die ministeries se amptelike kanale eers gevolg moet word voor sy kantoor genader word.

“Die kantoor van die ombudsman is veronderstel om die laaste uitweg te wees – indien ’n ministerie nie op klagtes reageer nie, of nie ’n bevredigende antwoord verskaf nie, moet die ombudsman genader word,” het hy gesê.

Dausab deel ook dat ’n tekort aan menslike en finansiële hulpbronne haar ministerie tans pootjie.

“Ons beplan om die direktorate te prioritiseer sodat ons meer kapasiteit op daardie vlak kan skep. Ons hoop ook om die internskap-poel te vergroot, want dit is ’n manier waar ons meer hande kan hê, wat meer kostedoeltreffend is,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg dat diegene in haar ministerie wat nie lus is om hul werk te verrig nie, in die minderheid is.

“Baie van ons mense is gretig om verbeteringe voor te stel en te implementeer, maar hierdie verbeteringe verg hulpbronne. Ek glo dit beïnvloed ook die moraal,” het Dausab gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!