Litium-uitvoer steeds nie gestaak
Nuwe mynboukommissaris aangestel
Litium-erts vloei steeds uit Walvisbaai na China ten spyte van die minister se opdrag om dié bedrywighede te staak.
‘n Vloot van 80 vragmotors vervoer steeds op ‘n deurlopende basis litium-erts vanaf die Xinfeng Investments-myn na Walvisbaai se hawe. Dit ondanks die feit dat die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, op 20 Oktober op ’n mediakonferensie gesê het hy het ’n stokkie voor die uitvoer van onverwerkte erts gesteek.
Erongo, Republikein se susterskoerant aan die kus, kon egter die afgelope naweek bewyse vind dat die litium steeds na Walvisbaai deurbeweeg. Vragmotorbestuurders het Saterdag bevestig dat hulle die oggend by die hawe ingery het en moes wag tot hul vragte afgelaai word, voor hulle sou omdraai en terugry na die Xinfeng-myn naby Omaruru.
Ondersoekende joernalistiek dui dat die vragmotors die MR44-pad, nou bekend as die Dr. Hifikepunye Pohamba-snelweg, gebruik om die hawedorp binne te kom en reguit na die hawe ry. Die lorries gebruik ook die nuwe vulstasie in die nuwe nywerheidsgebied om brandstof te tap.
In September het die Chinese mynbouer vragmotors ingevoer om die uitvoer van die erts na sy aanleg in China vir verdere verwerking tot litiumbatterye te verhoog en te bespoedig.
Die plaaslike media het destyds berig dat 25 000 ton litium-erts teen 23 September reeds uitgevoer is. Nog 50 000 ton sou in dieselfde maand by Walvisbaai se hawe onder die Namibiese Haweowerheid (Namport) deurbeweeg. Op 7 Oktober het Namport bevestig dat 54 719 ton litium binne net een week van hierdie maand uitgevoer is.
Volgens mnr. Elias Mwenyo, bestuurder van sakeontwikkeling by Namport, sal die wêreldwye litiummark na verwagting vanaf ’n jaarlikse aanvraag van 200 000 tot ’n vlak van 800 000 teen 2025 aangroei. Volgens hom kan die batteryvervaardigingsbedryf met 65% tot 70% groei.
INTERNE ONDERSOEK
Nuus wat vroeër vandeesmaand in die sosiale media gedeel is dat Xinfeng Investments die myn vir N$50 miljoen gekoop het, het omstredenheid ontlok en beskuldigings van korrupsie en omkopery tot gevolg gehad.
Alweendo, wat self onder verdenking was, het op 20 Oktober op die mediakonferensie aangevoer niks van dié miljoene het in sy eie sak beland nie en dat hy ’n stokkie voor die uitvoer van onverwerkte erts gesteek het.
“Ons het dit reeds stopgesit. Ek het opdrag gegee dat ons dit staak,” het hy by die geleentheid gesê.
Alweendo het toe gesê hy verstaan nie hoe Xinfeng ’n uitvoerpermit bekom het nie en hy wag op terugvoering van sy beamptes. Hy het ook erken sy voormalige tegniese assistent, mnr. Rafael Muyamba, het bedank voordat interne ondersoek oor sy beweerde betrokkenheid by die litium-bedrog ingestel kon word.
Die saak is wel by die Teenkorrupsiekommissie (ACC) aangemeld, het die minister gesê.
Muyamba was glo saam met mnr. Ndili Benyamen, ’n geoloog, en die staatsamptenaar mnr. Timoteus Mashuna betrokke by Orange River Mining, wat die myn na bewering vir N$50 miljoen verkoop het.
PERMIT OPGESKORT
Teen laas Donderdag het die woordvoerder van die ministerie, mnr. Simon Andreas, bevestig dat Xinfeng se uitvoerpermit en sy vervoerpermit opgeskort is.
“Die maatskappy het tans nie ’n vervoer- of uitvoerpermit nie,” het hy by navraag aan Republikein gesê. Die ministerie het volgens hom vasgestel dat die myn sonder permitte na Walvisbaai vervoer het.
“Gevolglik het die ministerie kennis gegee dat mynlisensie 243 (ML243) gekanselleer moet word, hangende ’n nuwe aansoek wat die maatskappy binne 30 dae moet indien. Die ministerie het intussen opdrag gegee dat mynbedrywighede gestaak moet word,” het hy gesê.
Volgens die ministerie was Xinfeng tot dusver gemagtig om litium-erts ter waarde van N$63 miljoen uit te voer.
“Die ministerie sal berigte ondersoek dat trokke wat erts vervoer vandeesweek gesien is,” het Andreas gesê.
Navrae wat aan mnr. Zhou Hao van Xinfeng Investments gerig is, is teen druktyd geïgnoreer. Hy het ook nie gereageer op oproepe en WhatsApp-boodskappe met video’s en foto’s van dié vermeende ongerymdhede nie.
Intussen is Vrydag aangekondig mnr. Erasmus Shivolo, wat sedert 2008 reeds 14 jaar lank as Namibië se mynboukommissaris dien, is met onmiddellike effek in dié pos vervang.
Luidens dié skokaankondiging Vrydag sal me. Isabella Kandjii-Chirchir, voormalige adjunkdirekteur vir mynbou in die ministerie van myne en energie, sy plaasvervanger word, terwyl Shivolo voortaan as die adjunk- uitvoerende direkteur van myne sal dien.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie