Litium vloei steeds

Skip laai in Walvisbaai
Die ministerie van myne en energie het die uitvoerpermit verleng, ten spyte van Alweendo se hokaai-opdrag.
Augetto Graig
Die omstrede Chinese litiummyners Xinfeng Investment se vragmotors ry steeds vragte litiumerts na die hawe van Walvisbaai, waar die grootmaat vragskip die Sea Aquarius in Maandag se vroeë oggendure aangekom het.

Volgens inligting bevestig deur hawe-owerhede sal 51 250 metrieke ton erts op die vragskip gelaai word, voor dit na verwagting weer voordag op Donderdag 24 November sal vertrek.

Namport het nog nie bevestig dat die erts na China bestem is nie.

Kort nadat die inligting vasgestel is, het die ministerie van myne en energie amptelik erken dat dit goedkeuring gegee het dat die myn nog tot 29 November litiumerts per pad mag vervoer.

Die mynbouministerie se woordvoerder, me. Ten Hasheela, het aan Republikein bevestig die verlenging van vereiste uitvoer- en vervoerpermitte is slegs vir erts wat die myn reeds vergruis het. Dit nadat Xinfeng aan die ministerie verduidelik het dat bestaande ooreenkomste vir die vervoer en aflewering van die erts nagekom moet word. Die skip was glo reeds op pad na Walvisbaai, volgens Hasheela.

Die ooreenkomste is glo gesluit voordat die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, laas maand die grootmaat uitvoer van onvervaardigde litiumerts stopgesit het.

Ná Alweendo se aankondiging het die ministerie gesê uitvoerpermitte, vervoerpermitte en die voortsetting van mynbou naby Omaruru (ML243) is opgeskort.

In gister se amptelike kennisgewing sê die ministerie nou Xinfeng mag nog 55 000 ton vir industriële toetsdoeleindes uitvoer, om vas te stel of die maatskappy ’n vervaardigingsaanleg in Namibië wil vestig.

“Dit is dus ’n eenmalige reëling en die verbod op uitvoere op die maatskappy sal vanaf 30 November 2022 weer van toepassing wees, totdat die maatskappy se hersiene mynbouprogram geëvalueer en goedgekeur is,” lees die vrystelling.

In September het die Chinese mynbouer 80 vragmotors ingevoer om die uitvoer van die erts na sy aanleg in China vir verdere verwerking tot litiumbatterye te verhoog en te bespoedig.

Plaaslike media het destyds berig dat 25 000 ton litiumerts teen 23 September reeds uitgevoer is. Nog 50 000 ton sou in dieselfde maand by Walvisbaai se hawe deurbeweeg. Op 7 Oktober het Namport bevestig dat 54 719 ton litium binne net die eerste week van daardie maand uitgevoer was.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!