GRANT: The Ministry of Gender Equality, Poverty Eradication and Social Welfare has revealed that it provides social grants to over 373 017 beneficiaries. Photo Nikanor Nangolo
GRANT: The Ministry of Gender Equality, Poverty Eradication and Social Welfare has revealed that it provides social grants to over 373 017 beneficiaries. Photo Nikanor Nangolo

Meer as 370 000 kry maatskaplike toelaes

Nikanor Nangolo
Die minister in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, Doreen Sioka, sê die regering het teen einde Maart vanjaar maatskaplike toelaes aan 373 017 wees- en weerlose kinders toegeken wat tans op die ministerie se stelsel is.

Volgens Sioka is N$1,7 miljard van die ministerie se toegewysde begroting geoormerk vir kindersorg- en beskerming, om uitgawes te dek wat verband hou met programme en aktiwiteite wat op die verskaffing van kindersorg- en beskermingsdienste, kos vir die Namibiese kinderhuis en nasorgsentrums, asook personeeluitgawes gerig is.

“Die primêre doel van die program is om versorging en beskerming vir die welstand van kinders te verbeter. In 2023-’24 het maatskaplike werkers in die ministerie omgesien na 1 753 kinders wat geweld en mishandeling ervaar het. Agtien slagoffers is vanaf April tot Desember 2023 in veilige tuistes gehuisves,” sê Sioka.

Ten spyte van pogings deur die ministerie om die lewenstandaard van wees- en weerlose kinders in die land te verbeter, het ’n opname deur Republikein se susterkoerant Namibian Sun ’n stygende neiging getoon in die misbruik van maatskaplike toelaes om drank te koop en skuld af te betaal.

Volgens 'n maatskaplike werker in die Ncuncuni-kiesafdeling in Kavango Wes, Felixia Hamutenya, gebeur dit al hoe meer dat die toelaes misbruik word wat ten doel het om finansiële verligting te bring en ook kwessies soos voedselsekuriteit te takel.

Hamutenya sê die ministerie identifiseer individue wat die toelaag dringend nodig het, net om later uit te vind dit is gebruik om skuld af te betaal of om alkohol te koop.

“Ons probeer ons bes om weerlose individue en veral enkelma’s met meer as drie kinders te help wat nie geld het om vir hul gesinne te sorg nie. ’n Dag of wat nadat die toelaag gegee is, is sommige kinders egter in ons kantoor om weer vir hulp te vra. Dit laat die vraag ontstaan wat het van die geld geword wat veronderstel was om te help,” het sy verduidelik.

“Die wanbestuur van die toelaes het vrae laat ontstaan oor die doeltreffendheid hiervan. Daar is egter sommige ontvangers van die toelaes wat dit gebruik waarvoor dit bedoel is en wat insluit om kos te koop.”

Volgens Hamutenya is dit nie altyd die ouers wat die toelaes misbruik nie, maar soms is dit die kinders.

“Hier het van die kinders ’n groot invloed op hul ouers. Sommige kinders boelie of manipuleer hul ouers om vir hulle die geld te gee. Omdat van die kinders weens hul ouers se finansiële posisie reeds hul toekoms ‘laat vaar het’, gebruik hulle die geld vir drank en dwelms.”

Kinders wat vir die maatskaplike toelae kwalifiseer, sluit in dié wie se ouers werkloos is en nie in hul kinders se basiese behoeftes kan voorsien nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer