Die Hardapdam is 13% vol na die onlangse invloei. Foto Dawie de Klerk
Die Hardapdam is 13% vol na die onlangse invloei. Foto Dawie de Klerk

N$1 miljard vir watersektor begroot

Kommer oor damvlakke
Verskeie damme het ná verlede week se neerslae invloei gehad, maar die Von Bachdam is tans slegs 11,4% vol en die Hardapdam 13%.
Francoise Steynberg
Die begroting van N$1 miljard vir die watersektor van die ministerie van landbou, water en grondhervorming vir die 2024-’25 finansiële jaar verteenwoordig ’n verhoging van 38,9% vanaf die sowat N$634,8 miljoen van die vorige boekjaar.

Volgens adjunkminister Anna Shiweda beloop die bedryfsuitgawes meer as N$249 miljoen, wat 24% van die totale begrotingstoekenning verteenwoordig. Daarbenewens is die ontwikkelingsbegroting N$790 miljoen, wat 76% van die totale begrotingstoekenning verteenwoordig.

Kommer heers oor die lae vlakke van die land se opgaardamme wat volgens NamWater se jongste dambulletin tans gesamentlik op 56% staan teenoor verlede jaar se 68%. Verskeie damme het ná verlede week se neerslae invloei gehad, maar die Von Bachdam is tans slegs 11,4% vol en die Hardapdam 13%.

In ooreenstemming met die ministeriële mediumtermynplan, implementeer die watersektor drie sleutelprogramme: Meer as N$139,1 miljoen (13,4%) word aan geïntegreerde waterhulpbronbestuur toegeken, meer as N$867 miloen is geoormerk vir die ontwikkeling, instandhouding en opgradering van waterinfrastruktuur, terwyl slegs 3,2%, ofte wel N$32,8 miljoen, vir die ontwikkeling van sanitasie-infrastruktuur toegeken is.

Die eerste program se begroting sluit in om die waterontledingslaboratorium op te gradeer en toe te rus om watergehalte in al die uithoeke van Namibië te verseker, asook die ontwikkeling van die watermeesterplan.

“Die uitvoerbaarheidstudie vir die Noordoewer-Vioolsdriftdam by die Benede-Oranjerivier sal voltooi word om watersekerheid vir die Suide te verseker, veral vir diegene wat uitsluitlik van dié rivier afhanklik is vir watervoorsiening,” het Shiweda gesê.

Nog ’n lewensvatbaarheidstudie wat toegeken is, is vir die verlenging van die twee kanale na Namibië vanaf Angola in die omgewing van Ndombodola en Onamakude.

CUVELAI-ETOSHA-BEKKEN

Volgens Shiweda sal die implementering van die geo-hidrologiese ondersoek in die Cuvelai-Etosha-bekken en kwantifisering van ondergrondse hulpbronne voortgaan met die hulp van die Duitse regering.

Benewens die tweede program se begrotingstoekenning, is fondse van meer as N$1,1 miljard van die Afrika Ontwikkelingsbank ontvang, volgens Shiweda.

Dit sal aangewend word vir onder meer om 40 boorgate te boor en te installeer en die opgradering van 27 bestaande boorgate, asook die uitgrawing en konstruksie van 40 nuwe gronddamme en opgradering van 14 bestaande gronddamme.

“Uitgrawing en konstruksie sal na verwagting in die eerste kwartaal van hierdie finansiële jaar begin. Verder beplan die ministerie om die uitgrawing van verskeie natuurlike waterkanale in die Noorde te onderneem,” sê Shiweda.

NUWE ONTSOUTINGSAANLEG

Die ministerie sal voortgaan met die ontwikkeling van die nuwe ontsoutingsaanleg aan die kus volgens die aanbevelings van die uitvoerbaarheidstudie, asook die oorname en opgradering van die bestaande Orano-ontsoutingsaanleg by Wlotzkasbaken.

Daar word volgens die adjunkminister ’n lewensvatbaarheidstudie vir nog ’n ontsoutingsaanleg vir die die noordelike streke van Kunene, Omusati, Oshana, Oshikoto, Ohangwena en Kavango-Wes gedoen met ’n aansoek vir finansiering wat aan die Afrika Ontwikkelingsbank voorgelê is.

Vir die derde program, sê Shiweda sanitasie bly ’n hoë prioriteit op die regering se ontwikkelingsagenda “om te verseker dat alle Namibiërs toegang het tot kwaliteit-sanitasiegeriewe met die oog om ontlasting in die veld uit te roei”. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 22° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 23° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 32° Omaruru: 23° | 35° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 22° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 25° | 38° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 18° | 28° Ariamsvlei: 24° | 39° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 18° | 25° Lubumbashi: 16° | 30° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 33° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 17° | 23° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 33° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!