Namibië se energieplanne op dreef
Beleidskonferensie op 11 en 12 Mei
Namibië is toegewyd tot die ontwikkeling en benutting van al sy energiebronne, volgens die energieminister.
Augetto Graig – Namibië sal waarskynlik die eerste land wees om die Verenigde Nasies se doelwit van netto-nul koolstofvrystellings te bereik.
Dit volgens die minister van myne en energie, Tom Alweendo, wat verlede week amptelik die vyfde Namibië Internasionale Energiekonferensie geopen het.
Hy sê Namibië sal waarskynlik teen 2026 of 2027 sy eerste molekules groenwaterstof vervaardig deur son- en windkrag in te span.
Hyphen Hydrogen Energy is verlede jaar gekies en onderhandeling vorder om die projek tot uitvoering te bring, volgens Alweendo.
Namibië het ook verlede jaar twee olie-ontdekkings langs die suidelike kus gemaak.
Die ontwikkeling van ’n oliebedryf is deel van die rede hoekom vanjaar se konferensie 430, of ten minste dubbel die deelnemende afgevaardigdes as in 2022 gelok het.
Die oliereus Shell het een van die ontdekkings gemaak, en die verteenwoordiger van dié Nederlandse maatskappy in Namibië, Dennis Zekveld, sê nog eksplorasiegate word geboor terwyl die maatskappy ook nou weer na die Graff-1-ontdekking terugkeer.
Namibië is toegewyd tot die ontwikkeling en benutting van al sy energiebronne, dring Alweendo aan.
Soos die res van Afrika is Namibië midde ’n energietekort, wat die onmiddellike verwerping van koolstof-energiebronne uitskakel, brei hy uit.
Energie beïnvloed die ekonomie en die welvaart van alle lande, volgens Alweendo, en “hierdie is ’n kritieke tyd vir die planeet se fossiel-aangedrewe ekonomie, wat nie so vinnig na hernubare bronne kan oorskakel soos sommige dit wil hê nie.”
Hy sê: “Ons weet klimaatsverandering is ’n werklikheid en dat Afrika die meeste geraak word.”
Namibië se energiemandjie moet steeds alle bronne omarm. Krag is nodig om die ekonomie te ontwikkel, sê hy.
“Wanneer ons hierdie reg doen – soos ons beplan om te doen – sal ons ander ook met die oorgang kan help,” het hy gesê.
Hy sê hy het met sy Suid-Afrikaanse eweknie gedurende die onlangse staatsbesoek na Suid-Afrika gepraat oor samewerking om die Kudu-gasprojek te ontwikkel. Die olie-ontdekkings behels ook gas en is naby aan Kudu geleë, wat die ekonomiese vatbaarheid van die langverwagte ontwikkeling verbeter.
“Verbeel jou net ons kan al hierdie gas saamspan; skielik raak die oorskakeling van gas tot krag baie makliker,” het hy uitgebrei.
“Volhoubare finansiering moet ook fossielbrandstowwe insluit wat volhoubaar vervaardig word,” dring hy aan.
Verder moedig Alweendo oliemaatskappye aan om elders as in die Oranjekom vir nog ontdekkings te soek.
Alweendo het ook Namibiërs gevra om betrokke te raak by die ontwikkeling van energie in Namibië.
“Nie die goed verbinde middelmanne nie, maar die ware entrepreneurs en die verdienstelike burgers met iets om aan te bied,” sê hy.
“Daar sal van beleggers vereis word om te verseker alle dienste wat plaaslik gebied kan word, hier verkry word. Waar nie, moet plaaslike entrepreneurs se kapasiteit gebou word. Dit kan slegs gebeur as ons ware entrepreneurs het,” dring hy aan.
Alweendo het aangekondig ’n konferensie sal op 11 en 12 Mei gehou word, waar die beleid oor plaaslike inhoud vir die oliebedryf en mynbou oor die algemeen uiteengesit sal word.
“Beleggers is deel van die gesprek. Sluit by ons aan,” het hy gesê.
Die eregaste by die energiekonferensie was Chiekh Niane, Senegal se adjunkminister vir brandstof en energie; dr. Omar Farouk Ibrahim, sekretaris-generaal van die Afrika Petrolvervaardigersorganisasie; Andrew Mercer, die Ghanese adjunkminister vir energie en brandstof; Paulino Jerònimo, die uitvoerende hoof van Angola se olie- en gasagentskap; en NJ Ayuk, die uitvoerende voorsitter van die Afrika Energiekamer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie