NamRA konsulteer met entrepreneurs

Augetto Graig
Kleinhandelaars wat goedere vanuit die buiteland, veral China, bestel om plaaslik te verkoop, staan bekend as “bestel by my”-entrepreneurs.

Dié tipe besighede het vanaf April tot 12 Desember vanjaar meer as N$684 miljoen se goedere deur meestal die Internasionale Lughawe Hosea Kutako in Namibië ingebring.

Dit volgens syfers wat Abner David, bestuurder vir doeane in sentrale Namibië vir die Namibiese Inkomsteagentskap (NamRA), gister bekendgemaak het.

NamRA het gister ’n openbare vergadering met klaringsagentskappe en entrepreneurs in Windhoek gehou om bewerings van onreëlmatighede, eensydige beslagleggings en onbehulpsame amptenare te takel.

NamRA se hoof, kommissaris Sam Shivute, het gesê: “Ons het julle gehoor. Ons hoor julle klagtes en julle pleidooie. Dit is hoekom ons hier is, vir gesprekvoering en daarna om rigting te gee.”

Shivute sê egter sedert die ontstaan van NamRA in 2017 was daar nog geen strafregtelike vervolging van enige van die agentskap se amptenare vir diefstal van goedere nie.

Hy het betrokke entrepreneurs wie se produkte verdwyn aangemoedig om dit by die Namibiese polisie of die Teenkorrupsiekommissie (ACC) aan te meld.

“As daar mense by NamRA is wat steel, moet ons hulle met bewyse vastrek. Ons sal geen korrupsie duld nie. Kyk na al die inhegtenisnemings en klopjagte wat ons dié jaar uitgevoer het. As daar vrot appels is, moet ons hulle nou verwyder,” sê hy.

Sommige van die kleinhandelaars wat die geleentheid bygewoon het, het gekla dat hul goedere verwyder word en hulle geen dokumentasie daarvoor ontvang nie.

David hou egter vol dat NamRA nooit op goedere beslag lê sonder om dokumentasie te verskaf nie, wat vir uitklaringsagente gegee word. Volgens hom moet invoerders dus by hul agentskappe om die dokumentasie aandring.

David sê NamRA weet van sekere agentskappe se werknemers wat op heterdaad betrap is, en dié voorvalle is by die polisie aangemeld. Gedurende Desember is NamRA besig met ’n veldtog om dié tipe misdaad te bekamp, sê hy.

Shivute sê ook NamRA is bewu van kriminele sindikate wat invoerders se goedere steel en bloot sê NamRA het die goedere afgevat.

Wanneer NamRA ’n boks vir inspeksie oopmaak, word die boks met rooi-en-wit kleefband geseël, sê David.

Hy sê hy sal self ondersoek instel as ongelukkige invoerders hom kontak.

Verder word die vertraging van invoere deur die Trans-Kalahari-grenspos deur ’n tekort aan beamptes veroorsaak, sê David, maar hy voeg by dat NamRA tans met ’n aanstellingsproses besig is en die situasie metertyd sal verbeter.

Meer werknemers sal ook verseker daar is mense om besendings te deursoek, wat ook vertragings by die lughawens sal verminder, sê hy.

“As als in orde is met jou goedere, kan NamRA dit binne ’n dag vrystel,” sê hy.

David het ook gesê NamRA oorweeg om die gesamentlike groepering van invoere te skrap om spesifieke invoere meer doeltreffend te kan volg en om vir invoerders persoonlik terugvoering oor hul goedere te kan gee.

Elia George Kaiyamo, eregas en die Namibiese ambassadeur in China, het egter teen so ’n plan gewaarsku.

Hy het NamRA herinner dat kleinhandelaars saam invoer om koste te bespaar, en dat kleinhandelaars ondersteun moet word.

“Hierdie seuns en meisies ‘zula’ om te oorleef,” het hy van die ‘bestel by my’-entrepreneurs gesê.

Kaiyamo het vir meer sulke vergaderings gevra en vir meer volhoubare pogings deur NamRA om kleinhandelaars te help.

“As Namibiese ambassadeur in China moet ek vir ons burgers en ons nasionale belange sorg. Maak dus seker julle lig die ambassade in. Werk met instansies en volg gevestigde prosedures. As daar probleme voorkom, laat weet my, ek het toegang tot die Kommunistiese Party in China, net soos ek hier toegang tot Swapo se politburo het,” sê hy. “Moenie bang wees om korrupsie aan te meld nie, en bly ingelig oor wat julle doen,” was sy raad aan die kleinhandelaars wat teenwoordig was.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!