Minister Calle Schlettwein Foto MAWLR
Minister Calle Schlettwein Foto MAWLR

Ons het nie genoeg geld, sê Schlettwein

Minder as 1% van begroting word aan water bestee
Die landbouministerie vergader vandeesweek in Swakopmund om projekte te hersien en proaktiewe ingrypings te ontwikkel om prestasies te verbeter.
Brigitte Weidlich
Brigitte Weidlich en Kristien Kruger – “Ons het nie genoeg geld nie. Ons finansiële hulpbronne om landbou te ontwikkel om die mense te help en om landelike watervoorsiening te ontwikkel, is onvoldoende.”

Só het die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, gister tydens ’n vyf dae lange werkwinkel in Swakopmund gesê.

Voorleggings word gedoen oor elk van die 14 streke en alle departemente, insluitend watervoorsiening, grondhervorming, veeartsenykunde en die verbouing van graan en groente.

Die werkwinkel het ten doel om te besin oor die suksesse en uitdagings van die ministerie se projekte en hoe dit verbeter kan word.

“Dit is slegs deur hierdie tipe geleenthede dat ons in staat is om ons kollektiewe ingrypings te beoordeel.

“Dit stel ons in staat om beperkings en uitdagings te identifiseer en proaktiewe ingrypings te ontwikkel om prestasies te verbeter,” het hy gesê.

Schlettwein meen landbou is belangrik vir ’n volhoubare toekoms vir Namibië en dat dit die ruggraat van die land se landelike gemeenskappe is, maar hy meen dat die begroting onvoldoende is vir die ministerie om verskeie take en projekte uit te voer.

“In die droogste land in Afrika suid van die Sahara word minder as 1% van die begroting aan water bestee. Dit skiet ver te kort om ’n watervoorsieningstelsel te ontwikkel wat elke huishouding kan bereik,” het hy gesê.

Hy verduidelik verder daar is nie genoeg geld om mense op plase te sit en “saad en ander goed” aan hulle te gee nie.

“Ons kan net 25 families in ’n jaar hervestig. Dis al. Geen wonder daar is steeeds ’n wanbalans in grondbesit nie.”

Nog ’n kwessie wat Schlettwein gister geopper het, was die gebrek aan menslike hulpbronne binne sy ministerie wat volgens hom veroorsaak dat die dienste wat hulle aan mense en boere lewer, te kort skiet.

Volgens hom moet lande ten minste 5% van die nasionale begroting in die landbousektor belê en dit word nie in Namibië gedoen nie.

Hy het verder verduidelik dat nie eens 1% van die nasionale begroting aan die voorsiening van afvalwater bestee word nie. Daar is glo ook te min geld beskikbaar om landbougrond te koop en mense daarop te vestig.

Volgens Schlettwein het die ministerie ook nie genoeg staatsamptenare wat die mense op die platteland leiding kan gee oor boerdery en veeteling nie.

Buiten vir die beweerde tekort aan geld, het Schlettwein gesê dat die droogte die ministerie se werk en planne verder moeilik gemaak het.



SUKSESSE

“Ten spyte van al die uitdagings het die ministerie meer as 80% van sy projekte en planne vir die huidige boekjaar geïmplementeer. Dit was egter nie op die gebied van nasionale grondhervorming nie, maar dit is as gevolg van ’n gebrek aan geld,” het Schlettwein gesê.

Op ’n positiewe noot het die ministerie op die gebied van watervoorsiening groot mylpale behaal en het ongeveer 91% van die bevolking in Namibië nou toegang tot skoon drinkwater.

Die ministerie het in die huidige boekjaar meer waterpype aangelê en glo talle vervalle pypleidings vervang.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 22° | 38° Lubumbashi: 16° | 24° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 33° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 17° | 24° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 22° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 26° #N/A #N/A