Sanitary-ware (002)
Sanitary-ware (002)

‘Ons kan nie net op meisies fokus’

Seuns moet ook aandag geniet, sê ministerie
Die leier van die Popular Democratic Movement is omgekrap oor die adjunkminister van onderwys se afwysing van sy mosie in die parlement om gratis sanitêre produkte aan skoolmeisies te verskaf.
Iréne-Mari van der Walt
“Al ons aandag kan nie net op meisies se behoeftes gefokus wees nie. Die Universiteit van Namibië (Unam) het studies uitgevoer wat toon dat ons die seuns agterlaat – hulle het ook higiëniese produkte nodig.”

Só het die ministerie van onderwys, kuns en kultuur se direkteur van programme en gehalteversekering, Ayesha Wentworth, gesê kort nadat die ministerie se adjunkminister, Faustina Caley, ’n mosie in die parlement oor die verskaffing van gratis sanitêre produkte aan skoolmeisies teengestaan het.

Die leier van die Popular Democratic Movement (PDM), McHenry Venaani, is omgekrap oor Caley se afwysing van sy mosie Woensdag in die parlement.

Caley het glo Venaani se mosie teengestaan gebaseer op die feit dat die wet op basiese onderwys reeds daarvoor voorsiening maak.

“Die wet gee diskresie aan die minister om hierdie projek te implementeer en ons wil hê dat daar ’n raamwerk opgestel word vir die implementering hiervan eerder as om dit aan die minister se diskresie oor te laat,” het Venaani gesê.

Caley het gesê die ministerie het reeds N$439 385 begroot vir die voorsiening van menswaardigheidspakkies (dignity packs) wat aan 1 480 leerlinge in die Kavango- en Ohangwenastreek verskaf is.

Dié pakkies bevat toiletware en higiëniese produkte, soos sanitêre doekies en deororant.

Wentworth sê die implementering van die projek het nie so vlot verloop soos die ministerie gehoop het nie. Sy meen egter dit beteken eenvoudig dat belanghebbendes moet verseker dat die kwessies uitgesorteer word.

“Dit is nie perfek nie, maar die skole kom reg,” het sy gesê.

Volgens haar is die hoofrede vir skoolmeisies se afwesigheid as gevolg van menstruasie en nie ’n gebrek aan sanitêre produkte nie.

Sy is van mening dat skoolmeisies gereeld skool mis as gevolg van krampe en ander gesondheidskwessies wat met mentruasie gepaard gaan.

“Ons gaan moet kyk na ander gesondheidskwessies en weer evalueer hoe dit ’n verskil maak,” het Wentworth gesê.

Sy sê die ministerie steun op navorsing wat die Verenigde Nasies (VN) in 2022 in samewerking met die regering gedoen het om menstruele gesondheid en higiëne onder leerlinge te bepaal.

Die navorsing het getoon bykans die helfde (45,3%) van die meisies wat deel van die studiegroep was, het gevoel die fasiliteite vir higiëne en menstruasiebestuur in hul skole is onvoldoende.

Net meer as 70% van die meisies wat aan die navorsing deelgeneem het, het gesê hulle het nie behandeling ontvang vir gesondheidsprobleme wat met menstruasie geassosieer word nie, aangesien daar nie voldoende stelsels in plek was nie.

Uit die groep het 27,1% gesê uitdagings rakende menstruasie belemmer hul skoolprestasie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer