Mnr. Natangwe Iithete soek bewyse by mnr. Erasmus Shivolo dat De Beers nie Namibië se diamante steel nie. Foto Augetto Graig
Mnr. Natangwe Iithete soek bewyse by mnr. Erasmus Shivolo dat De Beers nie Namibië se diamante steel nie. Foto Augetto Graig

Politici: Mynreus ‘steel’ diamante

Mynboukommissaris vra vir bewyse
Met 'n besoek aan Lüderitz se hawe het 'n parlementêre staande komitee waargeneem dat regeringsbeamptes beperkte toegang tot Debmarine se aanleg het.
Augetto Graig
“Ons word gekul. Ons het geen beheer nie.”

So het die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor die ekonomie en openbare bestuur, mnr. Natangwe Iithete, gisteroggend oor Namibië se vennootskap met die internasionale diamantreus, De Beers, gesê.

Die komitee het die kommissaris van mynbou, mnr. Erasmus Shivolo, voor stok gekry oor buitelanders wat glo Namibië se minerale uitbuit sonder dat Namibiërs werklik daaruit baat.

Die komitee het ʼn openbare vergadering met die ministerie van myne en energie belê om klaring oor verskeie kwessies te kry.

Rakende die vennootskap wat tot die stigting van Namdeb, Debmarine Namibia en die Namibia Diamond Trading Company (NDTC) gelei het, sê Iithete: “Ons is moeg en ons is nie bang nie. Ons (minerale) hulpbronne moet aan die Namibiese mense behoort.”

Parlementslid Reggie Diergaardt het verwys na ʼn besoek van die komitee aan Lüderitz, en waar hulle waargeneem het dat regeringsbeamptes, veral vir die Namibiese Inkomste-agentskap (NamRA) en met betrekking tot doeanebeheer, beperkte toegang tot Debmarine se aanleg op die Lüderitz-hawe het.

“Ek is baie bekommerd oor die situasie op Lüderitz,” het hy gesê. “Ons amptenare is aan die genade van De Beers uitgelewer. De Beers besluit wanneer, hoe en vir hoe lank hulle toegang kan kry. Hoeveel diamante kan ons werklik voor rekenskap gee? Dit is grootskaalse diefstal wat daar aangaan, en dit gaan al vir jare so aan,” het hy gesê.

“By daardie kantore is ons mense heeltemal ontnugter. De Beers speel die deuntjie en ons amptenare moet dans,” sê hy.

Iithete het uitgebrei dat NamRA se kantoor skaars ʼn paar honderd meter van die Debmarine-aanleg geleë is, maar hulle word nie toegelaat om te sien wat kom in en wat verlaat die land deur die aanleg nie.

“Hulle kry net papiere om te teken,” sê die komiteevoorsitter.

Medekomiteelid en parlementslid, me. Elizabeth Becker, het vir Shivolo gevra: “Wat doen julle as ministerie om hierdie korrupsie deur De Beers te beheer? Julle moet optree,” het sy gesê.

Shivolo het gevra dat die politici harde bewyse van hul aantygings aan sy minister verskaf, waarop Iithete reageer het: “Ek mag nie bewyse hê dat De Beers ons diamante steel nie, maar ek het ook geen bewyse dat hulle dit nie doen nie. Ons het geen beheer nie. De Beers beheer homself. Watter bewyse het ons dat ons goed nie gesteel word nie?” wou hy weet.

Op navraag het Debmarine Namibia gesê: “Ons voer nie goedere in of voer diamante uit via Lüderitz nie. Ons bedrywighede is in streng nakoming van die Diamantwet en onder die toesig en monitering van die betrokke staatsamptenare, waar van toepassing,” volgens die kommunikasiebestuurder, me. Stella Ipinge.

De Beers se inwonende direkteur in Namibië, mnr. Daniel Kali, het aangedring dat die maatskappy geen bedrywighede self in Namibië uitvoer nie.

“De Beers, die wêreld se voorste diamantmaatskappy, het geen bedrywighede in volle besit in Namibië nie,” sê hy en, “terwyl ons ’n gelyke aandeelhouer met die regering in hierdie gesamentlike ondernemings het, is hierdie gesamentlike ondernemings nie De Beers nie.”

“By De Beers is ons besonder trots op ons vennootskap met die regering in hierdie gesamentlike ondernemings. Die gelyke vennootskap verseker dat die regering nie net tantième en belasting van ons ondernemings verkry nie, maar ook 50% van die dividende. “Daar is geen groter kommersiële suksesverhaal in Namibië nie. Geen werkgewer bied beter geleenthede of ander voordele as wat binne ons gesamentlike ondernemings gedoen word nie. Ons prestasiegeskiedenis in die lewering van werklike waarde aan die mense van Namibië is ongeëwenaard,” dring hy aan.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!