Legal advice directorate employs 29% of available positions
Legal advice directorate employs 29% of available positions

Regshulpdirektoraat ondervind uitdagings

‘Mandaat is skrikwekkend, uiters veeleisend’
'n Ernstige tekort aan personeel, benewens 'n hoë omsetkoers van personeel, het gelei tot aansienlike vertragings in die verskaffing van regsadvies aan die regering.
Tanja Bause
Ellanie Smit – Die regshulpdirektoraat kan tans slegs 29 van die 99 beskikbare poste vul weens finansiële beperkings.

Die minister van justisie, Yvonne Dausab, het in haar begrotingsmotivering gesê dié uitdaging word vererger deur ’n hoë personeelomset oor die afgelope boekjaar, wat gelei het tot aansienlike vertragings in die verskaffing van regsadvies.

Altesaam N$33,6 miljoen is vir die 2023-’24-boekjaar aan dié direktoraat toegeken.

Dausab het gesê die ministerie van justisie verskaf administratiewe dienste aan die prokureur-generaal en die regshulpdirektoraat val onder daardie portefeulje deur regsadvies aan die president en alle staatskantore, -ministeries en -agentskappe te gee.

Die direktoraat is ook verplig om wetlike ooreenkomste, verdrae en beleide te beding en dien op verskeie onderhandelingskomitees namens die regering.

“Sy mandaat is skrikwekkend en uiters veeleisend, en hoewel die struktuur van hierdie direktoraat voorsiening maak vir die werwing van voldoende personeellede, word die meerderheid van die poste nie befonds nie.”

Sy het gesê pogings om die direktoraat te bemagtig is aan die gang. Die minister het ook gesê die toegekende fondse sal die direktoraat in staat stel om die regering met regsadvies by te staan, insluitend onderhandelinge en verteenwoordiging op nasionale, streek- en internasionale vlak.

Dausab het bygevoeg die direktoraat hersien tans alle staatshulpooreenkomste vir die ontwikkeling van die wetlike raamwerk vir die groenwaterstofprojek en die finalisering van Air Namibia se likwidasieproses.

Daarbenewens sal N$32,6 miljoen aan die regsdiensdirektoraat, wat die mandaat het om plaaslike en internasionale regsdienste te verskaf wat uit verskeie regsooreenkomste voortspruit, toegeken word.

Die werksaamhede van dié direktoraat sluit in die hantering van uitleweringsversoeke, die fasilitering van staatsverslae aan internasionale menseregteliggame, en die hantering van regshulp in strafregtelike en siviele aangeleenthede.

Volgens Dausab werk die direktoraat saam met die kantoor van die aanklaer-generaal om die insameling van bewyse van Ysland in die visvangkwota-korrupsiesaak en die verwante uitlewering van verdagtes, te vergemaklik.

Sy het gesê die direktoraat is ook belas met onderhoudsake en die verskaffing van ondersteuning aan gemeenskapshowe.

“Die direktoraat het onderhoudshofbevele suksesvol afgedwing, wat gelei het tot die invordering van N$13,4 miljoen, wat aan die begunstigdes oorbetaal is.”

Sy het die belangrikheid van die implementering van die onderhoudswet beklemtoon, veral in terme van die versorging en ondersteuning van kinders en minderjariges.

Dausab het egter gesê ’n gebrek aan onderhoudsbeamptes by landdroshowe bly ’n uitdaging. ’n Toename in fondse vir hierdie howe het ten doel om die bereiking van dié doelwit geleidelik te verbeter, het sy gesê.

“Vir ’n lang tyd werk gemeenskapshowe met onvoldoende hulpbronne, wat toegang tot geregtigheid op gemeenskapsvlak beïnvloed.”

Dausab het gesê gemeenskapshowe het ’n herstellende geregtigheidsbenadering en word dikwels verkies, en om daardie rede moet hulle ondersteuning ontvang.

Altesaam N$599,4 miljoen is aan die justisieministerie toegeken.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!