‘Tyd vir ’n nasionale pensioen om ‘n werklikheid te word’

ILO-kenner gee leiding
SSC steun vasgestelde bydraes, minister wil 'n vastevoordeelfonds tot stand bring.
Augetto Graig
Die ministerie van arbeid, nywerheidsontwikkeling en werkskepping het Dinsdag saam met die Maatskaplike Voorsorgfonds (SSC) ’n twee dag lange slypskool met kenner André Picard, hoof- tegniese adviseur en hoof van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se aktuariële dienste vir maatskaplike beskerming, voltooi.

Die ILO se voorstel vir Namibië se nasionale pensioenskema was onder die loep.

Volgens Picard is ’n nasionale pensioenfonds reeds sedert 1994 in Namibiese wetgewing opgeneem en is dit tyd dat dié fonds ’n werklikheid word.

Die voorstel wat die ILO na Namibië bring, is om alle werkende Namibiërs te verplig om tot ’n vastevoordeelfonds by te dra.

Deur die bedrae te beperk wat bygedra en uitbetaal sou word, sou so ’n fonds diegene wat meer welaf is in staat stel om ook aan ander pensioenskemas deel te neem. Dit terwyl selfs diegene wat min verdien ’n bykomende inkomste, buiten die staatstoelae vir bejaardes, sou ontvang om hul oudag te vergemaklik.

Die onderliggende beginsels van die voorstel is bespreek, asook talle insette vanaf deelnemers oor hoe bestaande oorkoepelende pensioenfondse saam met die nasionale pensioenfonds sou smelt; die aansporing van Namibiërs wat meer verdien om deel te neem; en die impak van die wisselende wêreldekonomie op die fonds se reserwe. Voorbeelde van ander lande se ervarings met ’n nasionale pensioenfonds is ook bespreek.

Minister Utoni Nujoma het by die openingsgeleentheid gesê oor die jare is verskeie staatsprojekte en pogings om só ’n fonds te vestig sonder sukses van stapel gestuur.

Hy sê die SSC het in 2018 ’n voorstel aan die ministerie gemaak vir ’n beleid om ’n pensioenfonds met vasgestelde bydraes te vestig, wat die ministerie gevolglik verwerp het.

Volgens die minister het dié voorstel nie die oogmerk van die wet op maatskaplike sekerheid – om ’n solidariteitsfonds te stig waarin lae-inkomstewerknemers deur hoë-inkomstewerknemers gesubsidieer word – weerspieël nie.

Sy ministerie vereis ook dat alle werknemers en werkgewers in Namibië aan die toekomstige fonds moet deelneem, voeg hy by.

ILO se voormalige direkteur vir maatskaplike beskerming, dr. Isabel Ortiz, het ingestem om saam met die ministerie en die SSC ’n fonds te ontwerp waarin lede ’n vasgestelde voordeel sou geniet.

Die SSC het in Desember 2019 US$82 000 (N$1,5 miljoen) bygedra om die koste te dek van konsultante – wat die ILO in ooreenkoms met die ministerie aangestel het – om tegniese hulp vir die ontwerp van die nasionale pensioenfonds te bied, sê die minister

Die finale verslag oor die ontwerp en finansiële ontleding van die voorgestelde nasionale pensioenfonds is op 22 Maart 2022 uitgereik.

Intussen het die SSC sy voorstel vir ’n fonds vir vasgestelde bydraes opgedateer en aangepas om subsidiëring toe te laat.

Albei voorstelle het by die slypskool aandag geniet, terwyl die minister deelnemers gevra het om uiteindelik saam te stem oor ’n oplossing om die nasionale pensioenfonds in Namibië – tot voordeel van alle werknemers – ’n werklikheid te maak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!