Die landbouministerie het die verbod op die invoer van mielies uit Suid-Afrika opgehef. Foto argief
Die landbouministerie het die verbod op die invoer van mielies uit Suid-Afrika opgehef. Foto argief

Verbod op invoer van SA mielies opgehef

'Voedselsekerheid in gedrang'
Die impak op die verbod van mielies kan op die lang termyn prysstygings van verskeie noodsaaklike produkte soos voer en mieliemeel tot gevolg hê.
Francoise Steynberg
Groot verwarring het in landbougeledere geheers totdat die ministerie van landbou, water en grondhervorming gister eers amptelik die verbod op die invoer van mielies, mielieprodukte, palmbome en verwante produkte uit Suid-Afrika opgehef het.

Dit volg nadat knopvrotsiekte (Phytophthora palmivora) in palmprodukte en Goss- bakteriese verwelkskroei (Clavibacter michiganensis subspesie nebraskensis) in mielies in die Suid-Afrikaanse provinsies van die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes waargeneem is en invoerpermitte verlede week herroep is.

“Navorsing wat gedoen is en deurlopende monitering het aan die lig gebring dat Goss- bakteriese verwelkskroei hoofsaaklik mieliesaad, eerder as graan, raak. Maatreëls wat verband hou met knopvrotsiekte in palmprodukte sal dienooreenkomstig aangepas word,” lui die amptelike kennisgewing.

Die ministerie maan egter ondanks die opheffing van die verbod daar gewaak moet word teen die verspreiding van hierdie plantsiektes.

Daar was al oor die naweek beweringe dat die verbod opgehef is, maar die landbouministerie het geen amptelike dokumentasie na belanghebbendes uitgestuur nie.



VRAGMOTORS GESTRAND BY GRENSPOSTE

Botswana het soortgelyke beperkings ingestel.

Dié buurland het egter sedertdien hul grense vir die geraakte gewasse en produkte heropen.

Intussen het vragmotors op Namibiese grensposte gestrand gestaan. Sekere vragmotors is na bewering by grensposte deurgelaat en ander nie.

“Die Landboubemarkings- en Handelsagentskap (Amta) se vragmotors is deurgelaat, maar Namib Mills s’n en myne is nie by die Buitepos-grenspos deurgelaat nie,” het Winfried Metzger, die eienaar van die private Musese-meule in die Kavango-Wesstreek,” gister aan Network Media Hub (NMH) gesê.

Hy voer net sowat 1 000 ton mielies per maand in en verskaf mieliemeel aan winkels in die Noorde, asook gebreekte mielies as voer.

“Ek kry mielies van die Noordwes-provinsie. Noordwes se mielies is skoon.”

Drikus Delport, Feedmaster Namibia se tegniese bestuurder, het gesê hul vragmotors kon deur die Ariamsvlei-grenspos gaan. Dit blyk daar is probleme by die Buitepos-grenspos weens die amptelike dokumentasie wat nie van Namibiese owerhede ontvang is nie.

“Namib Mills is op skeepsinvoere van 60% en 40% op padvervoer vanaf Suid-Afrika. Daar is ’n skip wat in die Walvisbaai-hawe 10 000 ton witmielies vanaf Amerika afgelaai het,” het Delport gesê.

Dit is die naweek ook deur bronne in die akkerboubedryf bevestig wat meen die verbod het nie juis ’n negatiewe impak op die kort termyn nie met genoeg mielies in die silo’s, maar wel op die lang termyn rakende prysstygings in noodsaaklike produkte soos voer en mieliemeel.

Die mielieverbod het ’n groot impak op vark- en pluimveeprodusente gehad. Dié boere sit met hul hande in die hare met ’n boer wat gister laat weet het dat “sommige varkplase se mielies môre sal opraak, pluimveeplase teen die einde van die week en die meeste meulenaars binne die volgende sewe dae”.

Hy sê dis ’n groot risiko vir die nywerhede wat jare geneem het om hulself op te bou en ’n risiko vir voedselsekerheid, aangesien die meeste huishoudings afhanklik is van mieliemeel as hul stapelvoedsel.

“Wetenskaplike bewyse is duidelik daar is geen werklike risiko dat mielies die siekte versprei nie en huidige mielie-invoere is van verlede seisoen se oes.”

Goss- bakteriese verwelkskroei, wat aanvanklik in 1969 in Nebraska in Amerika aangetref is en na sekere ander deelstate versprei het, raak onder meer mielies, sorghum, suikerriet en verskeie grassoorte en -onkruide. Knopvrotsiekte by palmsoorte beïnvloed onder meer klapper, kakao, broodbome en papaja.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 22° | 38° Lubumbashi: 16° | 24° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 33° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 17° | 24° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 22° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 26° #N/A #N/A