Die vergoeding vir beesverliese sal vanaf 1 April van N$5 000 tot N$8 000 aangepas word. Foto verskaf
Die vergoeding vir beesverliese sal vanaf 1 April van N$5 000 tot N$8 000 aangepas word. Foto verskaf

Vergoeding vir beesverliese styg tot N$8 000

Francoise Steynberg
Die vergoeding vir die verlies aan beeste weens mens-dier-konflik is met N$3 000 verhoog.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het aangekondig dat die vergoeding vir beesverliese vanaf 1 April van N$5 000 tot N$8 000 aangepas sal word.

Verlede jaar het Shifeta in die Nasionale Vergadering vergoedingsverhogings vir alle kategorieë in die mens-dier-konflik-skema aangekondig, met beesverliese wat toe van N$3 000 na N$5 000 aangepas is.

“Alle ander betalings bly dieselfde as wat in September 2024 aangepas is,” het hy bevestig.

“Ons het die hersiene nasionale beleid oor mens-dier-konflikbestuur in 2018 ingestel om te verseker dat ons mens-dier-konflik bestuur op ’n manier wat die regte, ontwikkelingsbehoeftes en selfstandigheid van plaaslike gemeenskappe erken.

“Dit moet ook biodiversiteitsbewaring bevorder en verseker dat besluitneming vinnig, doeltreffend en gebaseer is op die beste beskikbare inligting.”

Sedert 2019 het die ministerie vergoeding van N$45 miljoen weens 3 301 voorvalle van mens-dier-konflik betaal.

Shifeta het verduidelik die mens-dier-konflikskema is geskep om die middele te voorsien om boere regstreeks te vergoed vir verliese aan vee en oeste, en die regverdige verdeling van voordele bevorder sodat individue wat verliese ly by wild-inkomste kan baat.

“Dit is ook daar om die morele verpligting van die regering na te kom om ’n gesin te onderhou wat ’n familielid aan sekere spesies wilde diere verloor het onder toestande waar daar nie redelikerwys van die geraakte persoon verwag kon word om hom- of haarself te verdedig om die voorval te vermy nie.”

Dit geld ook waar die gesin begrafnis- en verwante koste moet aangaan. Altesaam N$6,2 miljoen is vir 69 lewensverliese uitbetaal. Die skema betaal ook vir beserings aan mense wat deur wilde diere veroorsaak word, wat N$1 miljoen beloop vir 108 besering.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer