FOTO ARGIEF
FOTO ARGIEF

Voedselbank ‘nie ’n prioriteit’

Afwesigheid van kontrakte
Die beginsels van kompetisie, deursigtigheid, skeiding van pligte, verantwoordbaarheid en etiek kon nie getoets word nie en kon in die slag gebly het.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die monitering van die Voedselbankprogram blyk nie vir die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn ’n prioriteit te wees nie.

Volgens ’n ouditeursverslag het die ministerie nie die doeltreffendheid van dié program op ’n gereelde basis en tydens verskillende fases van die begin tot die einde – vanaf 2016 tot 2020 – geëvalueer nie.

Die program se handleiding maak dit duidelik dit moet elke vier maande geëvalueer word om die vooruitgang van die sosioëkonomiese status van die begunstigdes te bepaal.

Volgens ’n verslag van die ouditeur-generaal oor die implementering en bestuur van die voedselbankprogramme vanaf 2018 tot 2021, het die Universiteit van Namibië die program in November 2017 geëvalueer. Dit was egter nooit onderworpe aan ’n implementeringsplan vir voorstelle of ’n vorderingsverslag nie.

“Geen dokumentêre bewyse is vir ouditdoeleindes voorsien om aan te dui of dit wel soos vereis elke vier maande gedoen is nie,” lui die verslag.

Volgens die verslag het dit die ministerie se vermoë gekortwiek om uit te vind wat die sosioëkonomiese status van die begunstigdes is en om enige probleme dadelik te takel.

Met verwysing na die aankope vir die voedselprogram sê die verslag daar kon nie bepaal word op watter basis geskikte verskaffers gekies is nie. Ook nie hoeveel geskikte verskaffers uitgenooi is om te bie nie.

In teenstelling met die vereistes van die openbare verkrygingswet het die evalueringskomitee ook nie ’n verslag verskaf om te bepaal of die aanbiedinge volledig en in ooreenstemming met die vereiste tenderdokumente was nie.

“Die beginsels van kompetisie, deursigtigheid, skeiding van pligte, verantwoordbaarheid en etiek kon nie getoets word nie en kon in die slag gebly het.”

Die ministerie het maandeliks plaaslike verskaffers geïdentifiseer, maar het nie soos vereis kontrakte met hulle aangegaan nie.

In die afwesigheid van kontrakte kan geskille met verskaffers aldus die verslag nie getakel en uitsorteer word nie. Dit kan gevolglik tot die moontlike ondoeltreffendheid van die program lei.

Die oudit het bevind die voedselpakkies bestaan nie uit die items soos vervat in die handleiding vir die voedselbank nie. Dié teenstrydigheid was egter nie beduidend nie en was meer ’n geval een item wat met ’n ander item vervang is. Veranderinge is gemaak om die voedingskwaliteit van die pakkie te verhoog en ook om koste te bespaar.

Begunstigdes was volgens die ouditverslag meestal ten gunste van die oorgang van die voedselpakkie na kontant per maand in die eerste stap om ’n voorwaardelike basiese inkomstetoelaag in te faseer.

In die Erongostreek het die meerderheid van die begunstigdes gesê hulle verkies die voedsel bo kontant, terwyl dié in die Kavangostreek eerder kontant verkies het.

Die verslag verwys ook na die Scope-stelsel wat net in Khomas gebruik word en wat begunstigdes en die program digitaal bestuur. Dié stelsel is nooit in ander streke geïmplementeer nie, omdat ’n ooreenkoms tussen die vorige ministerie van armoede-uitwissing en die Wêreldvoedselprogram verval het en nooit hernu is nie. Die enigste uitdaging van die stelsel is dat dit soms buite werking is en moontlike vertragings kan veroorsaak.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!