‘Regering gereed vir nuwe visumbeleid’
Hoewel die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, Albert Kawana, sê daar is ruimte vir verbetering rakende sy ministerie se vermoë om dokumentasie wat digitaal vir visums ingedien word, te beveilig, sê hy alles is in plek vir die implementering van die nuwe visumbeleid wat op 1 April in werking tree.
Kawana voer aan die beginsel van ’n wedersydse visumbeleid is van uiterste belang.
“Daar is lande waar ons landgenote slegter as misdadigers behandel word – al het jy ’n visum en bewys van jou verblyf.
“Die beginsel van wedersydse belang is baie belangrik, want ons behandel nie daardie mense sleg wanneer hulle hierheen kom nie. “Inteendeel het ons ’n spesiale eenheid in ons polisie spesifiek vir die veiligheid van ons besoekers,” sê hy.
Met betrekking tot die fondse wat deur visumbetalings gegenereer word, het Kawana verduidelik: “Daardie geld gaan direk na die regering se rekening, en dit verminder die kanse op korrupsie. So daardie mense wat dalk daaraan gewoond is om lenings uit daardie geld te kry, daar is nie meer lenings nie – julle moet bank toe gaan.”
NUWE REGULASIES
Besoekers van Afrikalande wat nie Namibiërs van hul visumreëls vrystel nie, sal nou U$70 (ongeveer N$1 200) vir ’n visum betaal en diegene van oorsese lande U$90 (ongeveer N$1 600).
Die visums sal ook meervoudige toegang toelaat, wat beteken dat besoekers die grens sal kan oorsteek en weer Namibië kan binnegaan as die visum nie binne daardie tydperk verstryk nie.
Visums is geldig vir 90 dae vanaf hul uitreikdatum, maar verlengings word ook deur die ministerie aangebied.
Diegene wat by aankoms om visums aansoek doen, moet die volgende dokumentasie voorlê:
* ’n geldige paspoort met ten minste drie leë bladsye;
* ’n voltooide visumaansoekvorm;
* bevestiging van verblyf (hotelbesprekings of ’n uitnodigingsbrief);
* bevestiging van voldoende fondse;
* ’n reisplan;
* mediese versekering;
* ’n volledige geboortesertifikaat of toestemming van ouers as daar met ’n minderjarige gereis word; en
* die bewys van ’n goedgekeurde visumaansoek.
Verwarring heers egter oor visumaansoeke met aankoms wat net by 12 grensposte aangebied word, terwyl die e-portaal vir visumaansoeke by 15 grensposte soos onder meer Mata-Mata en Vioolsdrift nie beskikbaar is nie.
FENATA, NIPDB
Die adjunkvoorsitter van die Namibiese Toerismevereniging (Fenata), Delphin Ilunga, het by die bekendstelling van die nuwe visumbeleid sowel as die e-portaal vir visumaansoeke gesê die nuwe beleid minimaliseer die negatiewe impak waaroor daar kommer uitgespreek is weens konsultasies met belanghebbendes in die bedryf.
Die uitvoerende hoof van die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB), Nangula Uaandja, glo die toerismebedryf is in staat tot meer as die N$14,3 miljard wat dit tans tot die ekonomie bydra.
“Ons weet ook talle van ons beleggers is mense wat Namibië al voorheen besoek het en deur die land aangegryp is,” het sy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie