Frederick Eduardo Gariseb Foto verskaf
Frederick Eduardo Gariseb Foto verskaf

‘Sakeman’ vas ná hy lodges glo bedrieg

Verdagte word borgtog geweier
Die bedrogspul word beskryf as 'n berekende poging om verskeie verblyfinstansies in die gasvryheidsektor uit te buit.
Nikanor Nangolo
Die man wat homself as ’n gerespekteerde sakeman voorgedoen het en glo verantwoordelik is vir onbetaalde rekeninge by verskeie lodges in Rundu, sal vir eers agter tralies bly.

Die vermeende bedrieër Frederick Eduardo Gariseb (35) is vandeesweek borgtog in die Rundu-landdros geweier en die saak is tot 6 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.

Die onbetaalde rekeninge beloop glo sowat N$36 000 en Gariseb staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog en vervalsing.

Luidens hofstukke het Gariseb na bewering Ngandu Lodge uit N$18 438 en Omashare River Lodge uit N$18 400 bedrieg deur vervalste betalingsdokumente te gebruik.

Omashare River Lodge se bestuur het die bedrog oopgevlek en die polisie daarvan in kennis gestel.

Die lodge se bestuurder, Mauro Rosa, het die bedrogspul beskryf “as ’n berekende poging om verskeie verblyfinstansies in die gasvryheidsektor uit te buit”.

Rosa het vertel hoe Gariseb op 17 Januarie by die lodge ingeboek het, glo met ’n bewys van betaling van Nedbank.

“Omdat dit oor die naweek was, kon ons nie dadelik die fondse verifieer nie en het hom toegelaat om in te boek,” het Rosa verduidelik.

Toe Gariseb egter groot bedrae vir kos en drank op sy kamerrekening begin plaas het, het dit wenkbroue laat lig.



AANGEVAT

Teen Maandag was die betaling nog nie in die lodge se rekening nie waarna die lodge vir Nedbank gekontak het.

Hulle het ontdek die transaksie was bedrieglik, met ongeldige verwysingsnommers en met geen rekening wat onder die naam Gariseb gelys is nie.

Toe hy gekonfronteer is, het Gariseb beweer die transaksie is deur Nedbank Suid-Afrika gedoen en het verskeie verskonings verskaf.

Hy het ook beweer hy is ’n aandeelhouer in Ngatu Vocational Training Centre (VTC) en gesê hulle sal sy rekening vereffen, het Rosa gesê.

Die lodge het Ngatu VTC gekontak en ontdek dat Gariseb geen verbintenis met die instansie het nie.

Na ’n paar dae het die lodge ’n saak van bedrog aanhangig gemaak toe Gariseb probeer het om die lodge te verlaat sonder om sy rekening te vereffen.



ONDERSOEKE

Gariseb se beweerde bedrieglike aktiwiteite het glo verder as lodges gestrek.

Verdere ondersoeke het aan die lig gebring dat Gariseb na bewering ’n soortgelyke modus operandi gebruik het om glo ander ondernemings, insluitend Ngandu Lodge, Kavango River Lodge en Rundu Hotel, te bedrieg.

Volgens Rosa het Gariseb na bewering valslik beweer dat hy klasse vir die boor van boorgate deur Ngatu VTC aanbied waarvoor hy glo N$6 000 per kursus gevra het. Hy het egter na bewering die geld in sy sak gesteek sonder om enige dienste te lewer.

Die plaaslike joernalis vir Eagle FM Annakleta Haikera het ook geval vir een van Gariseb se beweerde leuens.

Hy het haar glo gekontak en homself voorgedoen as ’n filantroop wat boorgate aan inwoners by die informele nedersetting Sun City op Rundu wou skenk.

Haikera, wat geskryf het oor Gariseb se veronderstelde skenking, het gesê sy het later ontdek hy het haar berig gebruik om ander te bedrieg.

“Hy het belowe om boorgate te boor, maar het aangehou om verskonings te maak. Ek het uiteindelik uitgevind hy word reeds vir bedrog gesoek,” het Haikera gister gesê.

Sy het bygevoeg dat Gariseb haar berig gebruik het as bewys van sy “vrygewigheid” om individue te oortuig om vir hom geld te stuur, met sommige slagoffers wat na bewering omtrent N$50 000 betaal het.

“Dit is baie ontstellend. As ’n joernalis het ek ’n slagoffer geword en hy het my werk gebruik om ander te bedrieg.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 22° | 38° Lubumbashi: 16° | 24° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 33° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 17° | 24° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 22° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 26° #N/A #N/A