NOa Namcor
NOa Namcor

ACC ontbied Namcor se direksie, Matthews onttrek

Ndeunyema hou vir nou leisels van oliemaatskappy
Direksielede is individueel ingeroep om antwoorde te verskaf.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes - Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) sou na verwagting gister onderhoude afhandel met individuele direksielede van die Nasionale Petroleumkorporasie van Namibië (Namcor) oor hul rol in ’n Angolese olieprojek waarin die maatskappy ’n aandeel het.

Die maatskappy was intussen onsuksesvol in sy poging om Lionel Matthews as sy waarnemende besturende direkteur aan te stel ná ’n uitgerekte proses rondom die salaris waarop hy glo aangedring het en te midde van bewerings van botsing van belange. Shiwana Ndeunyema, die huidige waarnemende besturende direkteur, sal tot verdere kennisgewing in dié tussentydse rol bly.

Namcor se direksievoorsitter, Jennifer Comalie, was die eerste persoon met wie ’n onderhoud gevoer is voordat ander direkteure – insluitend die adjunkvoorsitter, Tim Ekandjo – ook ontbied is.

Die ACC wil vasstel of die N$100 miljoen wat na bewering vir ’n olieblok in Angola betaal is, wel die regte ontvanger, die Angolese oliemaatskappy Sonangol, bereik het. Namcor se geskorste besturende direkteur, Imms Mulunga, het die betaling na bewering sonder behoorlike direksiemagtiging gedoen.

Dit was nadat die direksie vroeër Namcor se verkryging van ’n belang in die olieblok goedgekeur het deur ’n gesamentlike onderneming, waarby die beheerliggaam Mulunga as ’n direkteur aangestel het om Namcor se belang te verteenwoordig.

Die ACC wil ook vasstel of die transaksie korrupsie of ’n bestuurskwessie is wat Namcor intern kan hanteer.

AANKLAGTE

Die geldoorplasing vorm nie deel van die drie aanklagte wat Mulunga in die gesig staar nie, wat insluit dat hy na bewering inligting aan die media uitgelek het. Nog ’n klag hou verband met beweerde verlies van voorraad by Namcor, asook Mulunga se besluit om ’n bevestigende beëdigde verklaring uit te reik waarby Jennifer Hamukwaya, Namcor se finansiële hoof, betrokke is. Hamukwaya veg tans vir die hernuwing van haar kontrak.

Mulunga het glo sy onskuld volgehou en die klagte afgelag as “flou” en gesê dit is gegrond in persoonlike vendettas.

Namcor-direksielede is individueel ondervra, met die ACC wat probeer om konsekwentheid in hul weergawes van gebeure te vestig. Dit te midde van bewerings dat die maatskappy geruk word deur persoonlike gevegte eerder as wesenlike oortredings.

Paulus Noa, die direkteur-generaal van die ACC, het gesê wat die geld wat na Angola oorgeplaas is betref, sal hulle die breë weergawe met Mulunga s’n vergelyk.

Mulunga, wat met volle betaling geskors is, is ook onlangs deur die ACC ontbied om die transaksie te verduidelik.

Die Namcor-direksie het ’n Suid-Afrikaanse handelsregsfirma, Cliffe Dekker Hofmeyr, betrek om die transaksie te ondersoek. ’n Verslag deur sy hoofondersoekbeampte, Megan Rodgers, het bevind dat Mulunga nie kwaadwillig opgetree het nie, maar goedkeuring vir die transaksie moes gekry het.

As die ACC glo tevrede is dat die fondse wel aan Sonangol oorbetaal is, sal hy nie die saak verder ondersoek nie, aangesien dit sou beteken dat geen korrupsie opgespoor is nie.

BEDOELING

Volgens Noa het die ACC egter nog geen gevolgtrekkings in die saak gemaak nie.

“Ons moet na alle kante van die storie luister en hulle moet vir ons inligting gee wat mnr. Mulunga dalk nie verskaf het nie. Ons moet ook sien of wat die uitvoerende hoof vir ons sê [ooreenstem] met wat die raadslede vir ons gegee het.

“Ons moet vasstel of daar enige bedoeling was om kriminele aktiwiteite te pleeg,” het hy gesê.

“Indien wel, sal ons dit na die owerhede moet neem en hulle sal besluit of iemand vervolg sal moet word. Maar indien nie, sal ons dit net volgens ons mandaat hanteer.”

LEWE ‘GENOEG ONTWRIG’

Na wat verneem word is Matthews – een van die minister van finansies, Iipumbu Shiimi, se adviseurs – glo ’n maandelikse salaris van N$270 000 aangebied.

Die dagblad The Namibian het verlede week berig hy wou N$350 000 per maand hê.

Maar terwyl onderhandelinge aan die gang was, het berigte aan die lig gekom dat Matthews botsende belange gehad het omdat hy ’n adviseur was vir ’n konsortium wat ’n kontrak van N$1 miljard van Namcor gekry het.

Hy het Dinsdag geweier om te antwoord of hy onttrek het weens ’n gebrek aan konsensus oor die salaris of weens die beweerde botsing van belange.

“Ek het geen verdere kommentaar oor hierdie saak nie. My lewe en dié van my gesin is genoeg ontwrig,” het hy gesê.

Ndeunyema het ook geweier om kommentaar te lewer.

Hy is glo gevra om aan te dui of hy van plan is om in die pos aan te bly, maar Ndeunyema – wat na bewering ongemaklik is met die huidige binnegevegte – moet nog bevestig of hy die pos wil hê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!