Bejaarde se dood ruk Mariental

Nadoodse ondersoek vind vandag of môre plaas
'n Geliefde moeder, ouma, oumagrootjie en lid van die gemeenskap is die naweek dood nadat vier verdagtes by haar huis ingebreek het.
Kristien Kruger
Die 83-jarige Johanna Hendrihetta Simon, beter bekend as Rita, is die afgelope naweek dood nadat vier verdagtes Vrydagnag by haar huis op Mariental ingebreek en haar beroof het.

Volgens die polisie se misdaadverslag wat Sondag uitgereik is, het die verdagtes by die agterdeur van Simon se huis in Aubstraat ingebreek en haar en haar huishulp met sykouse, stukke materiaal en kleefband vasgebind.

Volgens die polisie se verslag is twee selfone en trouringe tydens die rooftog gesteel.

Nadat die rowers die huis verlaat het, het die huishulp haarself na bewering losgewikkel en na Simon gehaas waar sy haar dood aangetref het.

Die oorsaak van Simon se dood is nog nie vasgestel nie en die polisie wag vir die uitslag van die nadoodse ondersoek. Die vermoede bestaan dat sy versmoor het.

Die koördineerder van misdaadondersoeke in die Hardapstreek, adj.komm. Eric Clay, het gister aan Republikein bevestig die nadoodse ondersoek sal heel moontlik vandag of Dinsdag plaasvind en dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

“Op die oomblik volg ons nog leidrade op. Ons wil verder ’n beroep doen op enigiemand met inligting om ons te kontak,” het hy gesê.

Persone met meer inligting in verband met die voorval kan Clay by 081 129 8473 of 081 240 2966 kontak, asook insp. Boois by 081 259 8664.

GEMEENSKAP IN ROU

Talle inwoners van Mariental het veral op Facebook hul meegevoel met die familie gedeel en dit is duidelik dat die dorp se inwoners woedend oor die voorval is.

“Geen plek vir hulle in die gemeenskap nie. Hulle moet gekry en vir ewig toegesluit word. Sterkte Erns en Fredie en hele Mariental-gemeenskap,” lui een van die plasings deur Mariental-inwoner, mnr. Siegfried Guibeb.

“Ons innige meegevoel. Dis verskriklik. Sy wat so goed was vir almal. Ons sal seker nooit verstaan nie. Maar liewe Jesus het ’n pragtige blom kom pluk. Rus in vrede my tannie Rita,” het me. Eugenie Cilliers gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!