Draadstrikke aan die toeneem

Stropery ’n landswye krisis
Volgens dr. Ulf Tubbesing het sy span in die laaste twee jaar vyf vlakvarke van draadstrikke bevry.
Tanja Bause
Dr. Ulf Tubbesing en sy span van Wildlife Vets Namibia het verlede week weer ‘n voorval op ’n plot by Brakwater gehad waar ’n vlakvark se snoet in ’n draadstrik vasgevang was.

“Gelukkig het die ploteienaar ons vinnig gebel en ons kon die mavark wat vier kleintjies het, help voordat die draad in haar vel gesny het. Ons het haar verdoof en die strik afgehaal. Die draad het ’n merk gelos, maar dit sal mettertyd weggaan,” het Tubbesing gesê.

Volgens Tubbesing het sy span in die laaste twee jaar vyf vlakvarke van draadstrikke bevry.

“Dis net die mense wat omgee wat ons laat weet. Die ander los of skiet die vark. Talle varke word ook nie gesien nie en vrek ellendig. Draadstrikke en stropery neem geweldig toe, nie net in Windhoek nie, maar oraloor die land. Dis nie mense wat honger is nie, dis mense wat betaal word om te slag. Sindikate sit agter die bedrywighede.”

Hy sê hy sukkel self die laaste paar nagte met stropers op sy plaas.

“Die laaste vier dae het ek op vier geslagte diere afgekom. Dis net dié wat ons vind. Ons het ook op ’n plek afgekom waar een gemsbok geslag is. Dis drie tot vier manne wat met honde en assegaaie jag. Hulle kan nie die gemsbok op een slag klaar eet en die volgende nag weer honger wees en weer kom jag nie. Hulle word betaal om te slag.”

Tubbesing is van mening dat stropery landswyd aan die toeneem is en verskeie faktore speel ’n rol.

Een van die faktore is die toenemende werkloosheid wat mense strikke laat stel en onwettig jag. Dit is omdat daar altyd iemand is wat die vleis sal koop. Asook al hoe meer mense is aan dwelms verslaaf en die sindikate gebruik dit om vleis vir dwelms te verruil.

“Dis hoekom ons die Animal Crime Scene-kursus ontwikkel het om boere en enigiemand op te lei wat met stropingstonele in kontak kom om die bewysstukke korrek te versamel. Ons moedig mense aan om ’n klag by die polisie te lê, al weet jy nie wie die stroper is nie. As iemand gevang word en die versamelde bewysstukke toon dat dit dieselfde persoon is, dan kan daar in plaas van een klag, vier of vyf klagte teen hom gelê word wat dan ook hopelik die saak sterker sal maak.”

Twee weke gelede is ’n perd van die plaas Elisenheim gesteel en in die berge by die informele nedersetting Okahandja Park geslag. Stropery is ook in die Daan Viljoen-wildtuin aan die toeneem en plot- en plaasbewoners in die Windhoek-omgewing loop al hoe meer onder stropers en strikke deur. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!