Egpaar ontduik bedrogspul met vals verkeersboete
Niksvermoedende motoriste geteiken
Owerhede het die publiek gewaarsku om lig te loop vir vals dokumente wat die rondte doen.
Elizabeth //Kheibes - ’n Bedrogwaarskuwing het vandeesweek op sosiale media versprei oor ’n man wat na bewering byna uit N$4 000 vir ’n vals spoedboete geswendel is.
Volgens Aletta Scheepers, wie se man glo geteiken is, het ’n individu hom gekontak wat beweer het hy is “adjunkkommissaris van Heerden”.
Die man het na bewering ’n foto van die voormalige Hardap-polisiestreekbevelvoerder Andries van der Byl op WhatsApp gebruik. Die egpaar beweer die swendelaar het vir hulle ’n “lasbrief vir inhegtenisname” gestuur wat op ’n briefhoof van die ministerie van justisie gedruk is, gemerk met seëls van die ministerie en die kantoor van die regbank.
“Gelukkig het ons vroeg besef dit is ’n bedrogspul toe die swendelaar nie basiese vrae oor die oënskynlike spoedboete beantwoord het nie en ons het nie die aangevraagde bedrag betaal nie,” het Scheepers gesê.
Scheepers het gesê die swendelaar het versoek dat die geld via e-wallet betaal word en het dadelik hulle aanbod om die geld persoonlik te oorhandig, van die hand gewys.
PUBLIEK GEWAARSKU
Simon Idipo, die woordvoerder by die ministerie van justisie, het Dinsdag gesê die ministerie dra geen kennis van die saak nie.
Hy het egter gesê soortgelyke voorvalle is deur die jaar by die ministerie aangemeld.
“Dit is ’n ernstige saak wat die ministerie dadelik sal ondersoek om hierdie skelms vas te trek. . . Dit is so ernstig en regverdig ’n spoedige ondersoek, aangesien baie motoriste met uitstaande boetes wat wil reis vir die komende vakansie maklik slagoffers hiervan kan word as hulle hul boetes wil opklaar,” het hy gesê.
“Die publiek moet gewaarsku word dat alle boetes vir alle verkeersverwante oortredings by ’n landdroshof, ’n polisiekantoor of ’n NamPost-kantoor betaal word.”
In April vanjaar het die ministerie ’n verklaring uitgereik waarin die publiek gewaarsku word teen “fiktiewe dokumente”, insluitend “betaling van dispute”, “die nienakoming van die Arbeidswet” en “’n lasbrief vir arrestasie” wat die rondte doen.
“Die kantoor van die regbank stel hiermee die publiek in kennis dat hierdie dokumente vals is en nie uit die kamers van enige regter van die hoërhof van Namibië kom nie. Lede van die publiek word versoek om die Namibiese polisie in kennis te stel van enige persoon wat enige van die fiktiewe dokumente voorlê of aanbied.”
Die ondersoekbeampte aan wie die strafsaak toegewys is, adjunkkommissaris Kaura van die handelsmisdaad-ondersoekeenheid, kan by 081 243 6482 gekontak word.
Die vermeende swendelaar moet nog geïdentifiseer word.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie