Nico Hijendepi Rebebe FOTO VERSKAF
Nico Hijendepi Rebebe FOTO VERSKAF

Gesoek: ‘Straatslim’ Rebebe

Henriette Lamprecht
Kenya Kambowe en Toivo Ndjembela – ’n Koorsagtige mensejag is tans onderweg vir ’n werknemer van Bank Windhoek se tak op Opuwo, Nico Hijendepi Rebebe.

Die vermoede bestaan dat hy oor die grens na Angola met die hulp van ’n voormalige werknemer gevlug het.

Beide word daarvan verdink dat hulle die meesterbreine agter die diefstal Saterdag by die betrokke tak was.

Frans Hosea Megameno (33) is in 2021 in hegtenis geneem nadat hy na bewering N$729 800 van dieselfde tak gesteel het. Beide Rebebe en Megameno het vir Bank Windhoek op Opuwo gewerk, tot laasgenoemde afgedank en strafregtelik aangekla is vir die beweerde diefstal. Die polisie ondersoek beweringe dat die twee mans Saterdag se diefstal saam beplan het.

Die polisie het aanvanklik gesê Rebebe het N$200 miljoen gesteel, maar in ’n verklaring laat Sondag het die bank sy besturende direkteur Baronice Hans aangehaal, wat gesê het dié bedrag is minder as N$2 miljoen. Die polisie wat onder swaar kritiek deurgeloop het omdat hulle gesê het die bedrag is N$200 miljoen, het daarop aangedring dat dit Bank Windhoek was wat dié bedrag aan hulle verskaf het.

“Verstaan asseblief dat die inligting wat deur die polisie gedeel is en wat die syfers ingesluit het, die inligting was wat deur Bank Windhoek op die betrokke dag gedeel is,” het die polisie se woordvoerder, adj.komm. Kauna Shikwambi, Maandag aan joernaliste gesê.

“Ons is egter bly dat dieselfde klaer die syfers in hul mediaverklaring verander het, nadat die ondersoek van stapel gestuur is,” het Shikwambi gesê.

’n Besoek deur Republikein se susterkoerant Namibian Sun aan Opuwo vandeesweek het Rebebe se beweerde wilde sosiale lewe blootgelê wat glo die dryfveer vir die diefstal was. Hy en Megameno is glo tydens die feesseisoen op Opuwo opgemerk. Rebebe verskaf ook blyplek aan Megameno wanneer hy in die hof op die dorp moet verskyn oor die beweerde diefstal in 2021.

Rebebe, ’n administratiewe klerk by die bank, het glo die geld Saterdag na twee verskillende bankrekenings oorgeplaas. Weens die aard van sy posisie wat op bankvlak redelik senior is, het hy glo meer administratiewe toegang tot die stelsels in die bank.

Hy het sy toegang gebruik om dit te laat lyk asof twee mense deposito’s van N$1 miljoen elk gemaak het.

Die stelsel wys daar was deposito’s, maar die werklike rekords wys dit was ’n interne oorbetaling.

Op die dag van die beweerde diefstal het Rebebe die bank omstreeks 07:00 binnegegaan en was hy die eerste persoon om Saterdag vir werk aan te meld. Teen omstreeks 08:00 toe sy kollegas opdaag, is Rebebe glo na ’n nabygeleë plaaslike restaurant waar hy bier gekoop het om sy “senuwees te kalmeer”.

Hy het na die bank teruggekeer waar hy na bewering die twee transaksies gedoen het, na buite beweeg en oproepe begin maak het.

Dié oproepe was vermoedelik na ander lede van ’n sindikaat om te begin om die geld by kitsbanke in verskillende dorpe te onttrek. Rebebe het weer terug in die bank gegaan waar hy glo die telefoonkabels uitgetrek en met die kringtelevisiekameras gepeuter het.

Hy het omstreeks 11:30 aan kollegas gesê hy gaan uit en is weg met ’n rugsak wat glo N$500 000 in kontant ingehad het. Die diefstal is eers twee ure ná die transaksies opgemerk, het twee amptenare na aan die ondersoek gesê.

“Hoe banke werk, is dat jy net die onreëlmatighede opmerk wanneer mense begin om die transaksies wat die dag gemaak is, te begin rekonsilieer. Dit gebeur gewoonlik eers wanneer die bank vir kliënte gesluit het,” het ’n bron in die bedryf verduidelik.

In hierdie geval is die transaksies opgemerk omdat dit hoër as die toegelate drempel was. Teen die tyd dat die verdagte transaksies opgemerk is, het bankbeamptes probeer om die tak te bel.

Niemand kon egter bereik word nie, omdat die telefoonkabels uitgetrek was. Teen die tyd wat personeel op die dorp bereik kon word, het Rebebe reeds verdwyn. Na bewering word nog twee mans in verband met die diefstal gesoek.

Rebebe is oorspronklik van Opuwo en het graad 12 in 2014 aan die Sekondêre Skool Outjo voltooi. Hy is in Julie 1993 gebore.

Volgens een van sy voormalige onderwysers was Rebebe “baie slim”.

“Nie akademies nie, maar straatslim. Hy was nie ’n moeilike leerling nie,” het die persoon gesê.

Volgens nog ’n onderwyser was hy ’n leerling wat baie “geglimlag het wanneer hy iets verkeerd gedoen het. Hy het geglimlag om die situasie te ontlont”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!