Heckmair-moordsage onder die vergrootglas
Sommige vrae na 12 jaar nog onbeantwoord
Die 25-jarige André Heckmair het op 7 Januarie 2011 sy ouers vir die laaste keer by die Maerua-inkoopsentrum gegroet toe hy op pad was na ’n vinnige middageteafspraak met Amerikaanse vriende. Twee ure later is sy lyk in die bestuursitplek van die motor in Gusindestraat gevind met ’n enkele koeëlwond in die kop.
Dit is vanjaar twaalf jaar sedert die Amerikaners Kevan Townsend en Marcus Thomas as moordverdagtes in hegtenis geneem is, en die verhoor sleep steeds voort.
WIE WAS ANDRÉ HECKMAIR?
Die jong man was ingeskryf by ’n hotelskool in die Switserse stad Lausanne en het die laaste jaar van sy lewe in die bedrywige New York gewoon - waar hy ’n internskap gedoen het.
Sy ouers was destyds die eienaars en bestuurders van die gewilde Cattle Baron-steakrestaurant wat in Maerua geleë was.
André was in Namibië met vakansie en het die vorige dag saam my gesin na Windhoek teruggekeer nadat hulle oor Kerstyd by Woltzkasbaken naby Hentiesbaai vakansie gehou het. Hy sou die volgende dag (8 Januarie) terugvlieg na Europa.
DAG VAN DIE MOORD
Volgens die getuienisse van André se ma, Birgit, en sy suster, Bianca, het hy die gesin omstreeks 12:00 op die dag van sy moord by Maerua afgelaai. André het met Bianca se kar gery omdat hy nie sy eie voertuig in Windhoek gehad het nie. Hy het vir hulle gesê hy gaan twee Amerikaanse vriende by die Stellenbosch-restaurant in Klein Windhoek ontmoet vir middagete.
Bianca het omstreeks 14:00 ’n oproep van die polisie ontvang nadat haar broer se lewelose liggaam agter die stuurwiel van haar wit Land Cruiser gevind is.
Die voertuig was geparkeer in Gusindestraat, ’n kort doodloopstraatjie sowat 2,5 kilometer noord vanaf die Stellenbosch-restaurant. Die inkoopsentrum, André se vertrekpunt, is egter suidoos vanaf die Stellenbosch-restaurant geleë en dit is steeds onduidelik hoekom hy hom in Gusindestraat bevind het.
Die polisie het nie André se selfoon of beursie op die toneel gevind nie en het die kar se lisensienommer gebruik om Bianca in die hande te kry. Die gesin het hulself na die toneel gehaas.
Hulle het André se selfoonnommer aan die polisie verskaf en die polisie het gevolglik ’n lasbrief vir dié nommer se selfoonrekords vanaf MTC verkry. Hulle het ook toegang tot die selfoonrekords gekry van die laaste nommer wat met André kontak gemaak het.
Op daardie rekords het hulle ’n nommer gesien met wie hierdie persoon in kontak was en so het hulle ’n man in die hande gekry wat sê dat die nommer aan twee Amerikaners behoort aan wie hy ’n motor verhuur het.
Laasgenoemde het hulle ook ingelig waar die mans woon en het ’n afskrif van ’n Amerikaanse rybewys aan die polisie oorhandig. Die naam op die rybewys was Marcus Thomas.
Die polisie het onmiddellik, nadat die ontvangsdame bevestig het hulle is wel daar, na die African Sky Guesthouse gery waar hulle die twee mans in hegtenis geneem het.
DIE AMERIKANERS
Kevan Townsend is ’n selferkende New Yorkse bendelid en lyk gepas in dié rol met tatoeëermerke oraloor sy nek en arms. Volgens Jean Meiring van Netwerk24 lyk Marcus Thomas weer op ’n haar na ’n jong Gustav Mahler - “kompleet met draadbrilletjies”.
Dit het onlangs tydens die verhoor aan die lig gekom dat hierdie twee mans mekaar in ’n tronk in New York ontmoet het. Marcus was agter tralies nadat hy in Augustus 2010 betrap is toe hy by André se woonstel in New York probeer inbreek het. Toe hy vrygelaat is, het hy Kevan se borgtog van US$10 000 betaal en op 10 Desember 2010 was Kevan ook op vrye voet.
Sewentien dae later het die Amerikaners in Namibië geland. Volgens Kevan se getuienis gedurende een van sy borgtogaansoeke was hulle in Windhoek op vakansie en was hulle van plan om tot 12 Januarie in die land te bly.
Bewysstukke toon wel dat een of albei van die mans tussen 10 en 27 Desember, die dag toe hulle by Hosea Kutako Internasionale Lughawe geland het, die Finse hoofstad Helsinki besoek het. Van daar het hulle ’n pakkie met ’n enkele tafelpoot na Namibië gestuur. Binne-in dié tafelpoot was ’n kneldemper vir ’n pistool versteek.
Die mans het ook na bewering twee 9mm-vuurwapenlope onwettig in die land ingebring.
Die staat voer aan die duo het na Windhoek gereis met die doel om Heckmair te vermoor. Volgens die staat het die mans nie gras onder hulle voete laat groei nie en het hulle kort ná hul aankoms in die Namibiese hoofstad glo begin uitvra oor die Heckmair-gesin en André se selfoonnommer in die hande probeer kry. Hulle het ook na bewering rondgevra oor 9mm-vuurwapens en ammunisie.
Kort ná hulle arrestasie is die Amerikaners vanaf die Windhoek Sentrale Gevangenis na die polisiekantoor geneem om klere en toiletware uit hulle bagasie te haal. Hiertydens het die mans glo ’n notaboek uit een van die beamptes se kantore gesteel, beweer die polisie. Hulle het op dié swart notaboek beslag gelê toe hulle die kamer in die gastehuis waar die mans ten tyde die moord vertoef het, deursoek het.
’n Medegevangene het later getuig dat hy gesien het hoe Marcus bladsye uit die boek skeur en dit in ’n leë koffieblik probeer brand het. Sy aksies het ’n bykomende klag van regsverydeling tot gevolg gehad. Die polisiebeamptes het egter reeds voordat dit gesteel is, gesertifiseerde kopieë van die inhoud van die notaboek gemaak – wat verlede jaar tydens die verhoor as bewysstuk by die hof ingedien is.
Die notaboek het inligting bevat oor André en sy gesin, besonderhede oor vliegtuigkaartjies en inligting oor kneldempers en vuurwapens.
ANDRÉ EN DIE AMERIKANERS
Kevan het voorheen getuig dat hy André glad nie geken het nie, maar Marcus het tydens die verhoor by monde van sy regsverteenwoordiger gesê hy en André het mekaar geken en dat hulle op 7 Januarie ’n afspraak gehad het waarvoor André toe nooit opgedaag het nie.
Daar is ook sprake dat André vir Marcus geld geskuld het, maar dié gerug is nog nie tydens hofverrigtinge bespreek nie.
DIE MEISIE IN DIE MIDDEL
André was in ’n langtermynverhouding met Christine Brühwiler. Hulle het saam die hotelskool in Lausanne bygewoon en sy het in Desember 2010 saam met die Heckmair-gesin in Namibië vakansie gehou.
Christine het die dag voor André se dood, op 6 Januarie 2011, teruggevlieg na Switserland. André sou op 8 Januarie op ’n vlug na Europa klim om by haar aan te sluit.
Nadat die twee Amerikaners in hegtenis geneem is en beslag gelê is op hulle elektroniese toestelle, het die polisie na die Heckmair-gesin se huis in Windhoek gegaan en ’n skootrekenaar saamgeneem.
Die skootrekenaar het ’n wagwoord gehad en hulle kon nie toegang tot die toestel verkry nie, maar op die skermskut was ’n foto. Die polisie het vir die Heckmairs gevra of hulle die man in die foto herken, want dit was een van die beskuldigdes. Hulle het nie die man herken nie, maar wel die vrou wat saam hom op die foto was: Christine Brühwiler.
Tydens Birgit se getuienis het sy gesê sy weet Christine het met Marcus uitgegaan voordat sy ’n verhouding met André aangeknoop het.
Dit is steeds onduidelik of Christine na Namibië sal kom om in die verhoor te getuig.
DIDDY MAAK SY STEM DIK
In September 2021 het die bekende kletsrymer Sean Combs, beter bekend as P. Diddy, op sosiale media uitgevaar en die vrylating van sy landgenoot, Kevan, geëis.
“Daar is geen grondslag waarop iemand ’n dekade lank van sy vryheid ontneem kan word nie. Al wat hy wil hê is ’n regverdige verhoor!,” lui Combs se sosialemediaplasing.
Hoewel die beskuldigdes reeds twaalf jaar in aanhouding is, is die hofverrigtinge telkens vertraag en het die verhoor eers onlangs begin spoed optel.
MISLUKTE ONTSNAPPINGSPOGING
Die verhoor was geskeduleer om in November 2014 af te skop, maar Marcus het kort tevore met die hulp van ’n vroulike tronkbewaarder probeer om uit die Windhoek Sentrale Gevangenis te ontsnap. Die ontsnappingspoging het egter liederlik misluk toe die Amerikaner hoog in ’n lemmetjiesdraadheining vasgesit het. Min sal die humoristiese beeld van die gevangene wat onderstebo aan ’n heining hang binnekort kan vergeet.
Dié gebeure het die verhoor met 10 dae vertraag.
VERHOOR EN VERTRAGINGS
Marcus het glo tydens sy ontsnappingspoging ’n kopbesering opgedoen en sy verteenwoordiger het versoek dat hy vir psigiatriese evaluering gaan om vas te stel of hy geskik is om verhoor te word. Dié ondersoek het bevind dat hy nie geskik is nie.
Die staatsaanklaer, adjunk-aanklaer-generaal Antonia Verhoef, het die bevinding uitgedaag en die hof het beveel dat Marcus vir ’n tweede evaluering gestuur word. Tydens dié evaluering is bevind dat hy wel geskik was om verhoor te word. Hierdie proses het die verhoor met etlike maande verleng.
Toe die verhoor in Junie 2017 moes hervat, het albei beskuldigdes aansoek gedoen dat regter Christie Liebenberg homself van die saak moet onttrek en kon die verhoor dus vir ’n wyle nie voortgaan nie. Dié aansoeke is van die hand gewys.
Marcus het teen Julie 2018 reeds vier prokureurs gehad wat onttrek het omdat hy na bewering onhaalbare opdragte gegee het. gevolglik het die Namibiese Regshulpsentrum besluit daar sal nie nog ’n regsverteenwoordiger aan hom toegeken word nie. Die verhoor het hervat en Marcus is gelaat om homself te verteenwoordig.
Daarna het dié weer ’n rekuseringsaansoek gebring omdat Liebenberg die saak laat voortgaan het ondanks die feit dat hy sonder ’n regsverteenwoordiger was. Dié aansoek het ook misluk. Intussen het Kevan aansoek gedoen vir sy saak om van Marcus s’n geskei te word. Ook dié aansoek is van die hand gewys. Beide aansoeke het egter maande geneem om afgehandel te word.
In April 2019 het Marcus regshulp gekry, maar voordat die verhoor kon hervat het die prokureur homself, op sy kliënt se opdrag, van die saak onttrek.
Die Covid-19-pandemie het ook vertragings meegebring, maar sedert verlede jaar is die saak goed op dreef. In 2021 is ’n binneverhoor oor die toelaatbaarheid van bewyse wat die polisie tydens ’n soektog van die beskuldigdes se kamer in die gastehuis op beslag gelê het, afgehandel. Die polisie het die kamer op 7, 8 en 9 Januarie sonder ’n lasbrief deursoek en die hof het uiteindelik beslis dat die bewyse waarop op 7 en 9 Januarie beslag gelê is, wel toelaatbaar is.
Die verhoor sal op 17 Maart vanjaar hervat.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie