Nuwe, nuwe nuusbreker
Nuwe, nuwe nuusbreker

Jong vrou ná bruilofvieringe verkrag

Dani Booysen
‘n Inwoner van Mariental het na bewering Saterdag in die vroeë oggendure ‘n 20-jarige vrou in Amaiblaagte se begraafplaas verkrag nadat sy en haar suster bruilofvieringe by sy huis bygewoon het.

Die twee vroue was besig om huis toe te loop toe die verdagte glo omstreeks 02:00 by hulle aangesluit het.

Hy het ‘n gesprek met die slagoffer aangeknoop en haar mond na bewering toegedruk voordat hy haar tussen die grafte in gedwing het.

Die vrou het weggehardloop en alarm by die inwoners van nabygeleë huise gemaak.

Die ondersoek duur voort en niemand is in hegtenis geneem nie.

VIER ANDER VOORVALLE

‘n Twaalfjarige dogter was volgens dieselfde misdaadverslag, wat vandag uitgereik is, die jongste slagoffer in ‘n totaal van vyf verkragtings.

Hierdie voorval het Woensdag omstreeks 15:00 by die Okalondo-nedersetting naby Okahao plaasgevind. Hoewel die 47-jarige verdagte in dieselfde huis as die kind woon en aan die polisie bekend is, is hy nog nie gearresteer nie.

In Windhoek is ‘n 17-jarige meisie Donderdagaand omstreeks 23:46 by die Goreangabdam verkrag.

Sy is volgens die polisie uit ‘n taxi die bosse in gesleep. Die verdagte is steeds op vrye voet.

Op Okahandja is ‘n 25-jarige vrou na bewering Vrydag of Saterdag verkrag nadat sy deur ‘n man met ‘n Volkwagen opgelaai is. Geen verdure besonderhede word deur die polisie verstrek nie.

Vrydagoggend omstreeks 04:00 het ‘n onbekende verdagte die slot van ‘n 22-jarige vrou se huis in Macaravani-Wes gebreek voordat hy haar verkrag het.

Ook in die saak is niemand nog gearresteer nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer