Die ACC se direkteur-generaal, mnr. Paulus Noa, sê instellings met toesighoudende verantwoordelikhede moet die gesag hê om boetes op te lê aan administratiewe hoofde wat hulle skuldig maak aan did herhaalde wanbestuur en oorbesteding van staatsgeld. Foto argief
Die ACC se direkteur-generaal, mnr. Paulus Noa, sê instellings met toesighoudende verantwoordelikhede moet die gesag hê om boetes op te lê aan administratiewe hoofde wat hulle skuldig maak aan did herhaalde wanbestuur en oorbesteding van staatsgeld. Foto argief

Khomas lei korrupsieklagtes

ACC deel jaarverslag vir 2021-'22
Een bemoedigende kurwe wat in die jaarverslag uitgewys word, is die ACC se toenemende sukses in hofsake oor die laaste vyf jaar.
Augetto Graig
Die meerderheid korrupsieklagtes wat in die 2021-‘22 boekjaar by die Teenkorrupsiekommissie (ACC) aangemeld is, is in die Khomasstreek.

Dit volgens die ACC se jaarverslag vir dié boekjaar wat verlede week in die parlement ter tafel gelê is en Khomas uitsonder as die streek waar die meeste vermeende korrupsiesake aangemeld is.

Uit 110 sake wat gedurende hierdie tydperk onder die ACC se aandag gebring is, was 57 in die hoofstad se streek. Nog 22 sake is by die ACC-kantoor in die Erongostreek aangemeld, teenoor 18 in Oshana en 13 in Otjozondjupa.

Een bemoedigende kurwe wat in die jaarverslag uitgewys word, is die ACC se toenemende sukses in hofsake oor die laaste vyf jaar. Vanaf die vorige boekjaar toe vier uit vier afgehandelde hofsake op skuldigbevindings uitgeloop het, kon die ACC hierdie rekord in die 2021-‘22 boekjaar selfs verder tot sewe uit sewe verbeter.

Voor dit is een saak in 2017-‘18 afgehandel, met ’n skuldigbevinding, voor die beskuldigde in een uit die tien sake in 2018-‘19 vrygespreek is. In 2019-‘20 kon die ACC net vyf uit nege sake wen.

Die verslag sit sake uiteen wat tans ondersoek word, insluitend beweerde omkopery waarby amptenare van die Namibiese polisie (Nampol) in Walvisbaai, Swakopmund en die Wanaheda-woongebied, stadspolisiebeamptes in die hoofstad en immigrasiebeamptes betrokke is. Die ACC gaan ook voort met ondersoeke na beweerde korrupte praktyke in Omusati waar Nampol en die ministerie van onderwys, kuns en kultuur betrokke is; twee afsonderlike sake waarby die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling betrokke is; twee sake by die ministerie van werke en vervoer en drie afsonderlike sake waarby die Omuthiya-dorpsraad betrek word. Die Namibiese Kunsteraad (NACN); die staatsbeheerde New Era Publication Corporation (NEPC); die Tsumeb-munisipaliteit; Rehoboth se dorpsraad; lede van Windhoek se stadsraad; en die Zambezi- en Erongo-streeksraad het ook almal bande met aktiewe ondersoeke. Die ondersoek na die aanstelling van 'n nuwe uitvoerende hoof vir Fishcor, die staat se vismaatskappy, duur ook voort.

In een van die aanbevelings wat in die verslag vervat is, voer die ACC aan dat korrupsiesake in die hof geprioritiseer moet word om vinniger uitsprake te kry. Ander aanbevelings is die wysiging van die strafproseswet om voorsiening te maak vir pleitonderhandelinge en die instelling van ‘n wet om onverklaarbare rykdom te ondersoek. Die Teenkorrupsiewet van 2003 word ook hersien.

Die ACC se direkteur-generaal, mnr. Paulus Noa, sê instellings met toesighoudende verantwoordelikhede - soos die parlementêre staande komitee op openbare rekeninge - moet die gesag hê om boetes op te lê aan administratiewe hoofde wat hulle skuldig maak aan die herhaalde wanbestuur en oorbesteding van staatsgeld. “Die ACC het sy ondersoeke toenemend verskerp in ’n poging om uitstaande dossiere af te handel. Baie dossiere is tans óf verhoorafwagtend in howe óf by die aanklaer-generaal (AG), hangende haar besluit,” het hy bygevoeg.

Luidens die verslag is 36 dossiere oor die betrokke tydperk na die AG se kantoor gestuur, waarvan 20 van die vorige jaar oorstaan. Van dié 36 is 13 tans voor die hof, drie is afgekeur, en oor 20 moet daar nog besluit word.

Sedert die ACC in 2006 op die been gebring is, is 730 dossiere by die AG ingedien, waaruit altesaam 74 nog op ’n besluit wag. Uit 311 sake wat in die hof afgehandel is, kon die ACC 184 skuldigbevindings kry, met 127 sake wat tydelik teruggetrek is of waarin die beskuldigdes vrygespreek is. Vyf dossiere is na Nampol terugverwys, 242 is steeds voor die hof, en 98 vervolgings is afgekeur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!