Die oorledene, Lena Williams. Foto verskaf
Die oorledene, Lena Williams. Foto verskaf

Kort nuus

Usakos

Ekskêrel vermoor glo vrou

’n Jong vrou se ekskêrel het haar na bewering Saterdagoggend in haar huis in die informele nedersetting Saamstaan op Usakos vermoor.

Die 29-jarige Lena Williams is glo in haar huis met ’n mes aangeval en is kort daarna dood.

“Die verdagte het glo sonder toestemming die oorledene se huis binnegegaan terwyl die slagoffer saam met vriende was en vir haar daar gewag. Toe sy terugkom, het die verdagte haar verskeie kere met ’n mes gesteek; sy het ernstige beserings opgedoen. Sy is na die hospitaal geneem waar sy met haar aankoms dood verklaar is,” lui die Namibiese polisie se misdaadverslag.

Volgens die polisie het die verdagte ook hulle driejarige dogter geneem voordat hy gevlug het. Die kind is egter later ongedeerd gevind en die 26-jarige verdagte is in hegtenis geneem.

Usakos se burgemeester, Irene Simeon-Kurtz, het in ’n verklaring daarop gewys dat Williams ’n paar weke gelede die polisie ingelig het dat sy vir haar lewe vrees.

“Ons is bekommerd oor die stadige optrede van die lang arm van die gereg en hul vermoë om ons geliefdes te beskerm.

“Ons is net so bekommerd oor die onbeskikbaarheid van bestuurders vir beide polisievoertuie en ambulanse na die misdaadtoneel.” – Leandrea Mouers

Karibib

Twee vroue beseer in ‘tref-en-trap’

’n Taxi het die naweek na bewering twee jong vroue op Karibib omgery nadat die 24-jarige bestuurder glo beheer oor die voertuig verloor het.

Adj.-komm. Erastus Iikuyu van die Namibiese polisie het gesê die bestuurder het ’n geldige rybewys gehad. Hy het egter glo van die toneel gevlug en is later in hegtenis geneem.

Die twee vroue (onderskeidelik 20 en 19) was besig om vleis langs die pad te braai om te verkoop toe hulle raakgery is.

Beide het veelvuldige beserings opgedoen en is in die dorp se staatshospitaal opgeneem.

Die bestuurder sal na verwagting in die Karibib-landdroshof verskyn op aanklagte van roekelose en/of nalatige bestuur, asook ander klagte wat verband hou met die feit dat hy na bewering van die toneel gevlug het en versuim het om die omvang van die vroue se beserings te bepaal. – Shaldon Johannes

Usakos

Bejaarde verdwyn

Die polisie in die Erongostreek vra die publiek se hulp om ’n bejaarde man op te spoor wat Donderdag uit sy huis op die plaas Groenhuis in die Usakos-omgewing vermis geraak het.

Volgens adj.-komm. Erastus Iikuyu is die polisie eers Saterdagmiddag van die 69-jarige Albert Brockerhof se verdwyning in kennis gestel.

“Nampol het gevolglik ’n soektog uitgevoer. Hulle het sy voetspore gevolg en dit wil voorkom of hy verby Klein Spitzkoppe in die rigting van die woestyn gestap het.

“Die soekspan het teruggekom toe dit begin donker raak het en die soektog het die volgende oggend hervat.”

Brockerhof is ’n Afrikaanssprekende man wat sowat 1,75 m lank is met ’n ligte gelaatskleur. Hy is laas gesien met ’n rooi hemp, grys broek en blou tekkies.

Enigiemand met inligting word aangemoedig om Iikuyu by 081 246 4757 of Usakos se eenheid vir misdaadondersoeke by 081 609 1846 of hul naaste polisiekantoor te kontak. – Shaldon Johannes

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!