Kripto-bedrogspul oopgevlek
Nampol slaan toe op internasionale sindikaat
Agt-en-tagtig jong Namibiërs is as medepligtiges in hegtenis geneem in die polisie-operasie.
Verskeie jong Namibiërs, meestal studente, is deur buitelanders gewerf en opgelei om valse profiele op Facebook en Instagram te skep om niksvermoedende Amerikaners uit hul geld te swendel – eers deur hulle vertroue te wen en dan voor te stel dat hulle in kripto-beleggings belê. Dié beleggings, is belowe, sou vinnig wins genereer en is gebruik as lokaas om die slagoffers meer te laat belê. So het generaal-majoor Elias Mutota, die adjunk-inspekteur-generaal vir die Namibiese polisie (Nampol) se operasies, Vrydag die reusesindikaat se bedrywighede beskryf.
Volgens Mutota het Nampol op Dinsdag 3 Oktober op hierdie sindikaat toegeslaan met polisieklopjagte op ses huise in Auasblick, Kleine Kuppe en Klein Windhoek, asook die hele derde vloer van die Shapumba Towers-gebou in die hoofstad. Raylon Investments is die naam van die onderneming waaragter die sindikaat geskuil het en uit Shapumba Towers bedryf is.
Tydens die polisie-operasie is twintig verdagtes in hegtenis geneem, insluitend 11 Chinese burgers, vyf Zimbabwiërs, een Singapoerse burger, een Kubaan en twee Namibiërs. Saam met die verdagtes is 88 jong Namibiërs as medepligtiges ook in hegtenis geneem. Verder het die polisie ook beslag gelê op onder andere 163 rekenaars, 350 selfone, ses voertuie, 12 vuurwapens, ammunisie, dwelms en kontant ter waarde N$365 477.
Volgens Mutota was die jong Namibiërs tussen 20 en 25 jaar oud en gedwing om deurnag by ’n kontaksentrum te werk waar hulle deur middel van WhatsApp en Telegram met Amerikaners gekommunikeer het om hulle te oortuig om geld in valse kripto-geleenthede te belê. Die jongmense was nie toegelaat om vrylik te beweeg of met mense buite die sindikaat te kommunikeer nie. Strafregtelike aanklagte van mensehanel, geldwassery, bedrog en belastingontduiking is reeds aanhangig gemaak, terwyl die polisieondersoek voortduur. Mutota sê die moontlikheid bestaan dat meer arrestasies kan volg en daar op meer eiendom beslag gelê kan word. Hy het ’n beroep gedoen op enigiemand met meer inligting in dié verband om dit by die naaste polisiekantoor aan te meld.
By die mediakonferensie het komm. Nelius Becker, hoof van die Nasionale Forensiese Wetenskapsinstituut van Namibië, uitgebrei oor die vorm van misdaad wat in China as Shāz Hū Pán bekend is. Dit kan vertaal word na “varkslag-bedrogspul” (pig butchering scam) en dit is ’n langtermyn-bedrogplan wat beleggingskemas, romanse-swendelary en kripto-bedrog kombineer. Becker sê dié tipe misdaad word regoor die wêreld gepleeg en dien as bewys van die gevaar van kripto-geldeenhede wat nie gereguleer word nie. Volgens hom lig dit dit ook uit hoe kwesbaar jong, werklose Namibiërs is, aangesien dié wat die sindikaat betrek het deur blyplek en beloftes van inkomste ingelok is. Meer as 50 van die jongmense het reeds ingestem om staatsgetuies te word.
Polisiebronne het verlede week besonderhede aan ons susterkoerant Namibian Sun bekend gemaak oor die haglike omstandighede waaronder die jongmense in die huise aangehou is. Tot agt meisies moes op ’n tydstip ’n kamer met net een dubbelbed deel, en die persele was vuil. Dreigemente van moord op hulle ouers is gebruik om te verseker hul familielede vind nie uit oor die omstandighede waarin die jongmense verstrengel geraak het nie. Die buitelanders was ook glo daar vasgekeer en hul reisdokumente is afgevat. “Van hulle het gehuil en gevoel hulle is gered,” het een polisiebron vertel van die reaksie toe Nampol op die huise toegeslaan het.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie