Die Namibiese polisie se misdaadverslag van die afgelope naweek toon dat drie mense as gevolg van motorongelukke dood is. Foto Argief.
Die Namibiese polisie se misdaadverslag van die afgelope naweek toon dat drie mense as gevolg van motorongelukke dood is. Foto Argief.

Kroeggangers, omstanders vermoor glo dief

Uit die naweek se misdaadverslag
Die misbruik van jong dogters, ook binne familieverband, bly 'n krisis.
Dani Booysen
‘n Man wat na bewering deel was van ‘n groepie diewe wat iemand se selfoon gesteel het, het Vrydagnag in Rundu se Katutura-nedersetting met sy lewe vir die misdaad betaal.

Volgens die polisie se weeklikse misdaadverslag was dit kort voor ‘n halfuur voor middernag toe besoekers aan ‘n sjebeen en omstanders besluit het om die vermeende diewe self aan te keer.

Die oorledene is so erg aangerand dat hy aan sy beserings beswyk het. Die selfoon is wel teruggevind.

In ander ernstige misdaad is ‘n 34-jarige man Sondag omstreeks 01:00 by Omaruru se Reitverein-nagklub met ‘n bottel en mes deur twee ander mans vermoor. Beide is in hegtenis.

Dieselfde nag is ‘n vrou op die plaas Ozondjahe naby Otjiwarongo deur haar kêrel met ‘n haelgeweer doodgeskiet.

OOMS VERKRAG TIENERDOGTERS

Die polisie op Onayena het die afgelope week met ‘n ondersoek begin na die jarelange verkragting van ‘n tiener deur haar oom in die Omakunde-nedersetting.

Die 16-jarige kind was glo alleen tuis met haar oom terwyl ander kinders in die huis weg was vir skoolvakansies. Hy het haar die eerste keer na sy slaapkamer beveel, waar hy haar toe onsedelik betas en toe verkrag het.

Vanaf 2015 tot 2019 is die klaagster glo by verskeie geleenthede verkrag.

Sy het aanvanklik nie haar oom verkla nie omdat sy bang was. Weens veranderinge in haar geestesgesondheid het iemand onraad vermoed, waarna die jong vrou toe die misbruik aan die lig gebring het.

Die polisie rapporteer ook ‘n saak van poging tot verkragting en geslagsgeweld by Korridor 13 op 21 Junie 2022.

Hier het ‘n 11-jarige meisie se oom (39) haar na bewering omstreeks 20:00 met die belofte van N$10 na sy tent gelok.

Die ouma het besorg geraak en die kind se broer en suster gestuur om haar te roep. Toe hulle in die tent inkom, was die verdagte na bewering kaal en die dogtertjie het haar onderklere in haar hand vasgehou.

Op Kamanjab is ‘n 20-jarige man vroeg Saterdagoggend in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n 36-jarige man langs die Aurora-sjebeen met ‘n mes gedreig en sy slagoffer verkrag het.

ROOFTOG IN STAD

‘n Vrou en kinders is volgens die polisie se naweekmisdaadverslag Vrydagaand by ‘n woning in Rocky Crest met ‘n vuurwapen aangehou.

Na bewering het die verdagtes die elektriese heining geknip en oor die muur geklim. Hulle het toe gewag dat die inwoners by die huis kom.

Die aangehoudenes het om hulp geroep en is deur bure te hulp gesnel, maar die rowers het hulself toe reeds met goedere ter waarde van N$15 000 uit die voete gemaak.

Op Khowarib naby Sesfontein het moles Donderdagaand gelei tot die inhegtenisneming van ‘n 27-jarige man nadat hy eers drank oor ‘n ander persoon uitgegooi het en toe die man se 303-jaggeweer gesteel het, sy slagoffer daarmee huis toe gejaag en gedreig het om hom te vermoor.

MOTORONGELUKKE

Buiten vir twee broers wat in ‘n kop-teen-kop botsing in Windhoek omgekom het (berig in Maandag se uitgawe) het ‘n man Vrydagmiddag tussen Oshikuku en Oshakati gesterf toe hy glo met sy voertuig om ‘n draai ‘n ander motor probeer verbysteek het.

Twee mans in dieselfde voertuig is ernstig beseer toe die motor gerol het nadat uitgeswaai is om ‘n trompopbotsing te vermy.

Naby Oshikuku is ‘n voetganger dieselfde aand in ‘n nedersetting doodgery.

ANDER SAKE

Op Swakopmund is in Kramersdorf ‘n inbraak aangemeld waarin N$1 miljoen se eiendom gesteel is.

In die omgewing van Okonguati is Vrydag ‘n klopjag op verskeie nedersettings uitgevoer waartydens drie verdagtes vir die onwettig besit van vuurwapens en gesamentlik vier rondtes ammunisie aangekeer is. In een geval is twee 303-gewere afgeneem.

Op Okahao is ‘n man Saterdag ná ‘n wenk met ‘n onwettige jaggeweer, ‘n teleskoop, ‘n tent, jaglamp en vars vleis gearresteer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!