Jan MOhr
Jan MOhr

Leerkrag vas vir bedrog

Onderwyser bedrieg glo meer as 20 Jan Möhr-ouers
Sommige ouers beweer hulle het tot N$5 500 in skoolregistrasie- en koshuisgelde aan die vermeende bedrieër betaal
Kristien Kruger
Jemima Beukes – ’n Onderwyser van die Sekondêre Skool Jan Möhr is gister in hegtenis geneem nadat hy na bewering meer as 20 ouers uit skoolregistrasie- en koshuisgelde bedrieg het.

Hy sal na verwagting vanoggend in die hof verskyn.

Dit is in hierdie stadium steeds onduidelik hoeveel geld die verdagte deur die beweerde bedrogspul gemaak het. Hoewel die bedrae verskil, beweer sommige ouers dat hulle tot N$5 500 betaal het. Sommige ouers het selfs kwitansies ontvang en het geen rede gehad om die onderwyser te wantrou nie.

Personeellede by die skool het die inhegtenisname bevestig, maar wou nie verdere besonderhede verskaf nie en het navrae na die ministerie van onderwys, kuns en kultuur verwys.

Die woordvoerder van die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC), Josephine Nghituwamata, het die voorval bevestig. Sy het wel bygevoeg dat die verdagte nog nie amptelik aangekla is nie.

“Neem asseblief kennis dat die ACC wel ’n klag van 'n hokaairoeper oor beweerde bedrog teen ’n werknemer by die Jan Möhr Sekondêre Skool ontvang het. Alhoewel die verdagte vandag in hegtenis geneem is, kan ek nie verdere besonderhede verskaf totdat hy amptelik aangekla is en in die hof verskyn het nie.

“Die ondersoek is steeds aan die gang en die presiese bedrag moet nog bepaal word, maar die hokaairoeper het na registrasie- en koshuisfooie verwys,” het sy gesê.

GEEN ANTWOORDE

Die skool en die ministerie is huiwerig om inligting te verskaf.

Jennifer Coerecius by die skool het aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê die skoolhoof, Lukas Hashiti, verwys alle navrae aan die woordvoerder van die ministerie van onderwys, Sem Shino.

Shino het gesê hy dra nie kennis van die saak nie en het navrae verwys na die streekdirekteur van onderwys, Paulus Nghikembua, wat glo ook in die duister was oor die situasie.

“Ek het nie al die besonderhede nie. Die skoolhoof het my gebel en gesê daar is ’n situasie by die skool en die skool sal ’n volledige verslag stuur. Ek wag nog vir die verslag,” het Nghikembua gesê.

Edda Bohn, die adjunk-uitvoerende direkteur in die ministerie, het die voorval en inhegtenisname bevestig.

“Ja, ons is bewus van die voorval wat tans ondersoek word, maar dit is te vroeg vir my om kommentaar te lewer,” het sy gesê.

Intussen het een van die ouers wat op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, gesê hulle is bewus van minstens 29 ouers wat in die vermeende bedrieër se strik getrap het.

Hulle het glo tussen N$2 000 en N$5 500 betaal om te verseker dat hul kinders plek in die skool en koshuis kry.

“Hy het gesê ons moet vir hom die geld gee en hy sal dan die administrasie vir ons doen en ons kan maar in die nuwe jaar ons kinders bring. Ons het geen rede gehad om enige vuilspel te vermoed nie, want die persoon is ’n onderwyser by die skool en nie ’n middelman of iets nie. Nou sit ons kinders sonder plek in die skool,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!