Loop lig vir nuwe slenter

Rapporteer voorvalle, sê Cran
Kubermisdadigers is besig met 'n nuwe skelmstreek – om hulself as iemand anders op WhatsApp voor te doen.
Iréne-Mari van der Walt
Die regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) raai Namibiërs aan om verdagte aktiwiteite op WhatsApp by dié platform aan te meld.

Dit is in reaksie op navrae oor ’n nuwe slenter wat menigte reeds op hierdie platform teëgekom het.

’n Windhoekse sakeman Gerhard Mohrmann sê hy het ’n WhatsApp-boodskap van ’n vriend ontvang wat gesê het dit is sy nuwe nommer.

“Dit het sy naam, persoon se profielfoto met sy familie – alles. Hy het toe vir my gesê dit is sy nuwe nommer ek moet dit stoor.

“Dan dink jy dit kom van ’n vriend af, hy noem jou by die naam – hulle het natuurlik ook jou profielnaam – en jy dink regtig dis die ou wat jy ken,” sê hy.

Later het hy nog ’n boodskap van die nommer ontvang waarin hy gevra word om ’n guns vir hom te doen.

“Dan dink jy natuurlik dit moet ’n vriend wees. Dan sê hy dat hy besig is met ’n ambassadeurskursus so hy gaan vir jou ’n SMS stuur – jy moet net die skakel kopieer en dit na hom toe terugstuur.

“Ek het toe nie die SMS ontvang nie, maar ek het dit op Telegram gekry en hy het aanhoudend gevra of ek dit nie op SMS gekry het nie. Na ’n rukkie het hy vir my gesê dit is oukei en ek het dit daar gelos,” onthou hy.

’n Vriend het Mohrmann toe etlike dae later gekontak en gesê sy ontvang boodskappe van ’n profiel met sy naam en foto van iemand wat voorgee dat dit hy is.

Hy verduidelik dat hy die vriend se “nuwe nommer” kon identifiseer as ’n nommer wat aan die Suid-Afrikaanse telekommunikasiediensverskaffer, Vodacom, gekoppel is.

“Ek het hulle gekontak en hulle het gesê hulle sal tussen vyf en 10 werksdae neem om na my toe terug te kom,” sê Mohrmann.

Cran se woordvoerder, Mufaro Nesongano, het gesê: “Dit is goed om Vodacom eers te kontak om te sien wat hulle kan doen, maar aangesien dit ’n platformverwante kwessie is, kan hulle dit ook by WhatsApp aanmeld,” het hy gesê.

Om gesprekke wat as verdag voorkom by WhatsApp aan te meld, kliek op die kontak se naam in die gesprek en kies die opsie heel onder om die gesprek aan te meld.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer