Man met swartsak vol dagga betrap

Kristien Kruger
’n Inwoner langs die Oranjerivier het die afgelope naweek ’n oortreder vasgetrek toe hy hom op die Sandfontein Lodge en Natuurreservaat met ’n swartsak vol dagga betrap het.

Mnr. Adriaan Mulder, die reservaatbestuurder, het owerhede in kennis gestel en die oortreder, mnr. Petrus Geron April, is in hegtenis geneem.

“Volgens die gemeenskap het mnr. Petrus April saam met twee ander mans van Warmbad na die geslote grenspos by Onseepkans gegaan en van daar deur na Suid-Afrika. April is toe na Pofadder, toe Pela, en van Pela na Witbank waar die “aias” of daggasmouse hom vergesel het om die dagga oor die Oranjerivier te bring,” het Mulder aan Republikein gesê.

April het glo ’n vals naam vir Mulder gegee toe hy op die reservaat vasgekeer is.

“Mnr. Petrus April het gesê sy naam is Geron Rooi. Volgens gemeenskapslede word die naam Geron/Gilvon Rooi gebruik wanneer ’n persoon met dagga gevang word. Die dagga behoort glo aan ’n mnr. Rooi en ’n sekere konstabel wat in die gemeenskap bekend staan as Ndeshi. Hy onderdruk dan die saak wat verband hou met Geron/Gilvon Rooi.”

Dié konstabel het volgens Mulder die dag van April se inhegtenisname, saam met ’n ander beampte na die reservaat gekom om April te kom haal.

Mulder het die hoofbevelvoerder van Nampol op Warmbad, Paulus Kaferandu, en inspekteur Ganaseb van Nampol op Karasburg gekontak en hulle oor die voorval ingelig.

April staan tereg op een klag van die onwettige besit van dwelms en die onregmatige betreding van privaat eiendom.

Hy het Maandag in die landdroshof op Karasburg verskyn en is borgtog geweier. Sy saak is tot 21 Julie uitgestel.

RIVIER VAN WETTELOOSHEID

Republikein het einde verlede jaar berig oor smokkelary, diefstal en die onwettige oorsteek van die rivier in die omgewing.

“Mense steek die rivier om verskeie redes oor – om Namibië onwettig te verlaat of binne te kom, om vee oor te neem, om wild te stroop of kos of ander voorrade te bring vir mense wat aan die Namibiese kant woon.

“Die feit dat families langs die Oranjerivier privaat eiendom as hul eie grond eien, kweek ’n omgewing van wetteloosheid, want misdadigers kan nie doeltreffend gepolisieer word nie. Met die onbegaanbare terrein langs die rivier is owerhede ook nie lus om die wettelose gedeelte van die grens tussen Namibië en Suid-Afrika te patrolleer nie,” het Mulder Woensdag gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!