Meeste korruptes kry slegs boetes

ACC stel verslag vry
Die Teenkorrupsiekommissie van Namibië meen dit is die hof se verantwoordelikheid om te besluit oor die vonnisse.
Leandrea Mouers
Minstens 85% van mense wat vanjaar in Namibiese howe aan korrupsie skuldig bevind is nadat die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) hulle in hegtenis geneem het, is beboet met slegs twee uit 13 veroordeeldes wat tronk toe gestuur is sonder die opsie van ’n boete.

Diegene wat tronk toe gestuur is sonder die keuse van ’n boete is Sakaria Kokule, wat gepoog het om ’n ACC-beampte om te koop om bewysstukke terug te kry wat as deel van die ondersoek na die Fishrot-korrupsieskandaal op beslag gelê is. Hy is vandeesweek tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

Samson Shandjuuka is ook tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir sy betrokkenheid by die berugte N$20 miljoen-puttoiletskandaal op Omusati.

Diegene wat die keuse van ’n boete gegee is, sluit in Theophilus Shitaleni. Hy is ’n voormalige werknemer van die Forum vir Afrika-vroue-opvoedkundiges in Namibië (Fawena) en is op 11 Oktober skuldig bevind aan drie aanklagte van bedrog en is tot ’n boete van N$55 000 of twee jaar tronkstraf gevonnis.

’n Voormalige werknemer by die ministerie van werke en vervoer op Omaruru, Lameck Omushamane Amwaanyena, is op 15 Augustus ’n boete van N$3 000 of 10 maande tronkstraf opgelê. Hy is in die plaaslike landdroshof skuldig bevind aan die oortreding van die Teenkorrupsiewet van 2003.

Die direkteur-generaal van die ACC, Paulus Noa, het Woensdag beklemtoon dat elke saak sy eie meriete het en dat dit die hof se verantwoordelikheid is om oor die vonnisse te besluit.

“Om die gepaste straf op te lê, is ’n besluit wat die regter of landdros ná behoorlike oorweging van verswarende en versagtende faktore moet neem,” het Noa, ’n voormalige landdros, aan Network Media Hub (NHM) verduidelik.

“Indien die aanklaer-generaal, wat oortreders namens die staat vervolg, nie tevrede is dat geregtigheid geskied het nie, kan [hulle] teen die hof se besluit appelleer,” het hy gesê en bygevoeg dat vrae wat verband hou met gepaste vonnisse beter deur die vervolgingsowerhede beantwoord kan word.



BOETES, OPGESKORTE VONNISSE

Die voormalige uitvoerende hoof van die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC), Kelly Nghixulifwa, is ook skuldig bevind en tot ’n boete van N$150 000 of drie jaar tronkstraf gevonnis.

Hy is ook ’n bykomende vonnis van twee jaar opgelê wat vir ’n tydperk van vyf jaar opgeskort is op die voorwaarde dat hy nie skuldig bevind word aan enige korrupte praktyke gedurende hierdie tydperk nie.

Nghixulifwa se medebeskuldigde in die saak, Hafeni Nghinamwaami, is skuldig bevind en het ’n boete van N$30 000 of een jaar tronkstraf gekry, met ’n bykomende ses maande wat vir drie jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy N$30 000 aan die RCC terugbetaal.

Michael Haimbondi, ’n voormalige werknemer by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, is ’n boete van N$20 000 of 18 maande tronkstraf opgelê omdat hy ’n onreëlmatige betaling aan ’n private maatskappy gemaak het. Hy is op 9 Julie skuldig bevind.

Die Chinese gebore sakevrou Ping Zou is skuldig bevind en is ’n boete van N$20 000 of 18 maande tronkstraf opgelê vir korrupsie. Sy is 14 dae gegee om Namibië te verlaat nadat sy op 17 Julie gevonnis is.

’n Private dokter wat ’n ACC-beampte omgekoop het, dr. Shadi Ismail, is op 14 Maart ’n boete van N$100 000 of twee jaar tronkstraf opgelê. Sy medebeskuldigde, John Tuyoleni Ndandi, wat skuldig bevind is aan sameswering in verband met die omkopery, is tot N$60 000 of 18 maande tronkstraf gevonnis.

’n Oudwerknemer van die Grootfontein-munisipaliteit, James Kaviyu, is in Januarie vanjaar tot N$6 000 of 12 maande tronkstraf gevonnis ná hy die teenkorrupsiewet oortree het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 18° | 23° Oshakati: 21° | 24° Ruacana: 21° | 26° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 15° | 25° Omaruru: 18° | 28° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 19° | 29° Mariental: 22° | 31° Keetmanshoop: 25° | 36° Aranos: 23° | 33° Lüderitz: 17° | 24° Ariamsvlei: 28° | 39° Oranjemund: 16° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 30° Maseru: 19° | 32° Antananarivo: 15° | 30° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 30° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!