’n Skermgreep van die video waarin die vyfjarige meisie van die beweerde aanranding vertel.
’n Skermgreep van die video waarin die vyfjarige meisie van die beweerde aanranding vertel.

Minderjariges rand niggie glo wreed aan

Ministerie veroordeel ‘barbaarse’ geweld
Die vyfjarige meisie wat glo met 'n brandende houtstomp en 'n lat geslaan is, is intussen uit die hospitaal ontslaan.
Tuyeimo Haidula,Tanja Bause
Tuyeimo Haidula en Tanja Bause - ’n Video van ’n vyfjarige meisie wat na bewering wreed deur haar drie minderjarige familielede aangerand is, het skokgolwe oor sosiale media gestuur.

Die voorval het glo by die meisie se oom en tannie se huis is die Eiseb-nedersetting in die Omahekestreek plaasgevind.

Op die video sê die tannie sy het die vyfjarige en haar eie drie kinders – wat onderskeidelik ses, agt en 12 jaar oud is – in die toesig van een van hulle werkers gelos terwyl sy vir die naweek na ’n begrafnis toe is. Toe sy ná die naweek teruggekom het, het sy die kind in ’n skokkende toestand aangetref.

Die meisie se oë was glo só toegeswel dat sy niks kon sien nie en sy het kneusplekke en brandwonde oor haar hele lyf gehad.

Op die video sê die meisie die drie kinders het haar met ’n brandende houtstomp en ’n lat geslaan. Hulle het haar ook glo met kole gegooi.

Toe hulle die werker vra wat gebeur het, het hy volgens die tannie gesê die meisie het van ’n watertenk afgeval.

MINISTERIE REAGEER

Lukas Haufiku, die woordvoerder van die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, het bevestig die kind is uit die huis verwyder en in haar ma se sorg geplaas.

Haufiku het die drie minderjariges se optrede sterk veroordeel en gesê die voorval het glo aan die einde van Julie vanjaar gebeur. Die meisie is intussen uit die hospitaal ontslaan en is volgens Haufiku in ’n stabiele toestand en sal na verwagting ten volle herstel.

Haufiku het gesê die “barbaarse” daad word deur die wet op kindersorg- en -beskerming verbied en dat ’n kind onder die ouderdom van sewe nie ingevolge die Namibiese wet strafregtelik vervolg kan word nie.

“Hulle kan egter aanspreeklik gehou word as die saak bo redelike twyfel bewys kan word. Kinders se ontwikkelingstadiums en ander faktore word ook in hierdie verband oorweeg,” het hy gesê.

“Die ministerie is egter bedag daarop dat terwyl die geaffekteerde partye, insluitend die tannie, slagoffer en oortreders, psigososiale ondersteuning ontvang, dit van kardinale belang is om in gedagte te hou dat die oortreders ook minderjarig is. Dit beklemtoon die behoefte om hulle te help om die gevolge van hul optrede te verstaan,” het Haufiku gesê.

Hy het bygevoeg tydens ’n besoek aan die huis deur maatskaplike werkers, was dit moeilik om vas te stel of die minderjariges die gevolge van hul optrede verstaan het. Haufiku het gesê die ministerie sal voortgaan om beide gesinne se omstandighede te monitor en ondersteuning aan hulle te bied.

“Die ministerie waarsku hiermee die publiek om hulle daarvan te weerhou om dade van dié aard te pleeg, aangesien dit tot ernstige gevolge vir die oortreders kan lei,” het Haufiku gesê.

Indien iemand kindermishandeling in hul area vermoed, word hulle aangeraai om dit by die Childline-hulplyn by 106, die Namibiese polisie by 10111, of enige nabygeleë kantoor van die betrokke ministerie aan te meld. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!