‘Misdaadpandemie’ groei in Namibië

Polisie skop feesseisoen-veldtog af
Die landswye misdaadvoorkomings- en padveiligheidsinisiatief skop op Vrydag 17 November af en duur tot Dinsdag 16 Januarie 2024.
Yandi Du Plessis
Namibië staar ’n groeiende “pandemie” van geslagsgebaseerde geweld (GBV), motorongelukke en ander misdade in die gesig wat tot sterftes en ernstige beserings onder plaaslike inwoners en besoekers lei.

Dit volgens die Namibiese polisie (Nampol) se inspekteur-generaal, Joseph Shikongo, wat tydens ’n voorbereidingsvergadering vir misdaadvoorkoming- en padveiligheidsoperasie vir die 2023-’24-feesseisoen gepraat het.

Die landswye veldtog skop op Vrydag 17 November af en duur tot Dinsdag 16 Januarie 2024.

Shikongo het gesê die misdaadpandemie wys dat baie nog gedoen moet word om die huidige status quo in Namibië om te keer.

Hy het gesê misdade kom gereeld voor tydens die feestyd en skoolvakansies, wanneer duisende mense van hul huise na bestemmings oraloor die land en verder reis.

Wetstoepassers moet dus toegewyd bly om hul mandaat na te kom en te verseker dat mense vrylik beweeg sonder vrees vir misdaad, het hy gesê.

“Misdade soos huisbraak en diefstal, rooftogte en diefstal uit onder meer voertuie neem toe weens die feit dat misdadigers geleenthede kry om geld te maak gedurende hierdie tydperk van die jaar.”

REDE TOT KOMMER

Volgens Shikongo is misdaad ’n groot rede tot kommer vir die hele nasie, sowel as besoekers.

“Misdaadvoorkomingsinisiatiewe is belangrik om ’n gevoel van sekuriteit en veiligheid in ons gemeenskappe te skep, wat ongetwyfeld ’n positiewe impak op die sosioëkonomiese ontwikkeling van ons samelewing sal hê.

“Die doel van hierdie feestydveldtog is om veiligheid op nasionale paaie te bewaar, misdaad te voorkom, lewens te red en die beskerming van eiendomme te verseker.”

Shikongo het gesê die sleutelfokusareas sluit in die teiken van geïdentifiseerde misdaadbrandpunte, die verhoging van polisiesigbaarheid, die verbetering van reaksietyd en die versekering van robuuste verkeerswetstoepassing.

Die polisie sal ook alkohol- en dwelmmisbruik, buitensporige spoed en dronkbestuur en onpadwaardige voertuie teiken terwyl die aantal vaste en mobiele padblokkades vermeerder word.

Om hierdie doelwitte te bereik, sal daar veelvuldige intelligensiegedrewe operasies en verhoogde polisiesigbaarheid wees by brandpunte en gebiede waar groot getalle tydens vakansies bymekaarkom, soos strande en toeristebestemmings, het hy gesê.

“Dit sal gereelde voertuig- en voetpatrollies, sporadiese padblokkades en die soek na- en opsporing van verdagtes insluit.”

ALLE HANDE NODIG

Die polisiehoof het gesê alle hande sal gedurende hierdie feesseisoen nodig wees, met slegs ’n paar lede van die mag wat in kantore oor is om na administratiewe kwessies om te sien.

“Die meerderheid lede moet in die strate, by misdaadbrandpunte en ander gebiede ontplooi word.”

Streekbevelvoerders moet permanente verkeerskontrolepunte versterk en meer tydelikes langs nasionale paaie vestig, het hy gesê.

“Ek wil graag alle beamptes aanmoedig om te alle tye waaksaam, professioneel en hoflik te wees. Ons optrede gee die pas aan vir die gemeenskap, en ons moet ’n voorbeeld stel. Hanteer elke burger met respek en empatie, en onthou dat ons hier is om te dien en te beskerm.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!