'Moordenaar'-ma terug by die werk

Owerhede ontduik vrae in dubbele moordsaak
Klagte wat twee jaar gelede voorlopig teruggetrek is, is nie weer ingestel teen 'n ma wat na bewering haar twee kinders vermoor het nie.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes – ’n Namibiese vrou wat na bewering haar twee kinders meer as twee jaar gelede koelbloedig in Ethiopië vermoor het, werk steeds by die ministerie van myne en energie.

Geen wetlike konsensus is bereik nadat die staat ’n strafregtelike saak teen Kristofina Amutenya verbrou het nie, wat daartoe gelei het dat aanklagte teruggetrek is.

Amutenya, wat volgens kollegas dikwels ’n kopdoek by die werk dra om haar gesig te verbloem, werk as ’n hoofbeampte van lenings en finansies.

Die ministerie van myne het vrae ontduik oor hoekom Amutenya nie geskors is nie hangende die uitkomste van die saak teen haar.

Die staat het die klagte voorlopig teruggetrek teen Amutenya, wat daarvan aangekla word dat sy haar seun Jenay Haufiku (9) en dogter Jane Haufiku (3) in Desember 2020 vermoor het ná ’n bitter egskeidingstryd waarin hul pa toesig gekry het.

’n Derde kind, haar man se seun uit ’n vorige verhouding, het die aanval oorleef.

Amutenya was getroud met Peter Haufiku, ’n kommersiële attaché by die Namibiese ambassade in Ethiopië.

Ná die grumoorde is Amutenya, wat saam met haar destydse man in Ethiopië gewoon het, na Namibië gedeporteer en met die landingslag in hegtenis geneem.

‘ONWETTIG’

Sy het dadelik ’n dringende aansoek in die hoërhof gebring waarin sy aangevoer het haar arrestasie en aanhouding was onwettig.

Sy het by monde van haar prokureur, Kadhila Amoomo, aangevoer dat sy nie voorsien is van enige dokumentasie wat verduidelik hoekom sy in hegtenis geneem en gevolglik deur die polisie aangehou is nie.

Staatsprokureurs en -aanklaers het toe met Amoomo ooreengekom om die aanklagte teen Amutenya voorlopig terug te trek – wat twee jaar later steeds die geval is.

Haar eksman se familie het in ’n brief wat ons susterkoerant Namibian Sun onder oë gehad het, gesê hulle ly weens die gebrek aan aksie wat geneem is om Amutenya aan die pen te laat ry.

“Ons, Jenay en Jane se familie ervaar steeds verwarring, ontsettende pyn en totale wanhoop. Ons het talle vrae [en] bekommernisse,” het die familie geskryf.

“Ons kan nie te gou vergewe en vergeet nie, ons wonde is nog vars en ons pyn word vererger deur die feit dat die moordbeskuldigde vry loop en selfs werk toe gaan asof niks gebeur het nie. Dit is ongelooflik dat hierdie saak nie ernstig opgeneem word nie.”

‘EK SOEK MY DEEL’

Intussen, hoewel hul egskeiding ’n maand voor die moorde afgehandel is, is Amutenya en Haufiku tans in ’n bitter stryd om hul bates gewikkel.

Sy het in November 2022 geëis dat Haufiku sy vaste bates verkoop en die helfte van die opbrengs vir haar gee – insluitend die helfte van die versekering wat vir sy Amarok-bakkie geëis is en waarop sy geregtig is – aangesien hulle binne gemeenskap van goedere getrou was.

Amoomo het aan Haufiku se prokureur, Henry Shimutwikeni, geskryf: “Ons instruksies is dat ons kliënt geen belang het om eienaarskap van die vaste eiendom te behou nie en hiermee kies om betaling van jou kliënt gelykstaande aan die helfte van die waarde van die eiendom te ontvang in soverre dit weerspieël word in die aangehegte eiendomswaardasie.

“Neem verder kennis dat ons kliënt ook redelike vergoeding verwag vir die waarde van die eiendomme geleë in die dorp Ongha in die noordelike deel van Namibië, asook redelike vergoeding vir die helfte van die waarde van die gelde geëis van die versekering met betrekking tot die Amarok-bakkie.”

ONDERSOEK

Die betrokke staatsaanklaer ten tyde van die moorde, Hans Thourob, het verlede week gesê hy werk nie meer in die aanklaer se kantoor nie.

Hy was die een wat landdros Alweendo Venatius ingelig het dat die aanklagte teen Amutenya voorlopig teruggetrek word.

“Nadat die hofsaak teruggetrek is, is die dossier terug na die polisie vir verdere ondersoek,” het hy gister gesê.

Kommissaris Lilungwe Mayumbelo, die Namibiese polisie (Nampol) se hoof van kriminele ondersoeke, het verlede week gesê die ondersoek is nog aan die gang.

“Ek is tans buite die kantoor en dus nie by magte om kommentaar te lewer nie aangesien ek nie insig het oor die saakdossier nie. Wat ek jou kan verseker is dat die dossier nog aktief ondersoek word,” het hy gesê.

INTERNASIONALE WETTE

Die Namibiese ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking is glo deur sy ambassade in Addis Abeba meegedeel dat die Ethiopiese polisie ondersoeke afgehandel het en ’n verslag by die Ethiopiese ministerie van buitelandse sake ingedien het.

Martha Imalwa, Namibië se aanklaer-generaal, het gesê dit is ’n misdaad wat buite Namibiese grense plaasgevind het en dus ingevolge internasionale wette hanteer moet word.

“Die polisie het verdere instruksies ontvang om die saak te ondersoek. As die familie probleme wil opper, hoekom kom hulle nie na ons kantore toe nie? Ons verteenwoordig slagoffers en dit [geld ook vir] die familielede,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!