Moses Matyayi, Windhoek munisipaliteit se hoof beampte en Licky Erastus, MTC se besturende direkteur, is albei gelukkig met hul nuwe ooreenkoms.
Foto Windhoek munisipaliteit
Moses Matyayi, Windhoek munisipaliteit se hoof beampte en Licky Erastus, MTC se besturende direkteur, is albei gelukkig met hul nuwe ooreenkoms. Foto Windhoek munisipaliteit

MTC help Windhoek om waaksaam te bly

Gevorderde ondersteuning om misdaad hok te slaan
'n Ooreenkoms is onderteken om meer kringtelevisiekameras by misdaadbrandpunte te installeer asook meer netwerktorings.
Augetto Graig
Namibië se grootste mobiele telekommunikasiediensverskaffer MTC en Stad Windhoek het onlangs amptelik ooreengekom om saam te werk om die toepassing van inligtingskommunikasietegnologie op te skerp.

Volgens die besturende direkteur van MTC, Licky Erastus, is inligtingskommunikasietegnologie ’n vereiste vir ekonomiese vooruitgang.

Dit verskaf toegang tot inligting, moedig mededingendheid aan, verbeter breëbandinfrastruktuur, bevorder digitale geletterdheid, vergemaklik elektroniese staatsdienste en maak innovasie en entrepreneurskap moontlik.

Hy verwys na die onlangse nasionale sensus wat aandui dat Windhoek se bevolking reeds byna 500 000 mense uitmaak, en sê dat MTC se 460 000 kliënte in die hoofstad minstens tussen 20 en 30 nuwe netwerktorings benodig.

MTC het reeds sowat 170 torings oraloor die hoofstad en benodig meer, veral in die nuwe Ongos-woonbuurt, in Rocky Crest, op Groot Aub en in die noordweste, suide en ooste van die hoofstad, sê hy.

Erastus sê, “weens die stad se groeiende bevolking is die verkryging van nuwe persele in Windhoek moeisaam en omslagtig, en glo dat maniere gevind kan word om ’n gladde proses vir goedkeuring van nuwe persele te verseker. Daar moet voorsiening gemaak word vir telekommunikasie-infrastruktuur”.

“Ek is vol vertroue dat die ondertekening van hierdie ooreenkoms beduidend tot die voorgenoemde doelwitte sal bydra,” het hy verder gesê.

In dieselfde asem het MTC se hoof gesê die nuwe vennootskap sal bydra tot bekostigbare toegang tot inligtingskommunikasietegnologie, ’n veiliger hoofstad en “slim” polisiepraktyke.

MTC sal spesifiek die hoofstad ondersteun om meer geslotekringtelevisiekameras (CCTV’s) aan te skaf en te installeer.

Hoewel Erastus gesê het die aantal CCTV’s moet nog bepaal word, het Leevi Ileka, die hoof van die Windhoekse stadspolisie, by die geleentheid gesê die bestaande kameras gaan verdubbel word.

Volgens Windhoek se munisipale woordvoerder, Lydia Amutenya, het die hoofstad sowat 200 kameras in plek, maar sê dit is nie genoeg nie.

Windhoek se burgemeester, Queen Kamati het gesê, “die kringtelevisiekameras vorm die basis van die strategiese vennootskap, en is ’n stap nader aan die volhoubare en sorgsame stad wat Windhoek teen 2027 wil word”.

“Die kameras sal op verskillende MTC-infrastrukture geïnstalleer word, en by liggings waar misdaad geneig is om voor te kom, soos deur Stad Windhoek geïdentifiseer is,” het Erastus gesê.

Ikela sê: “Deur hierdie kameras strategies op sleutelplekke oraldeur ons stad te plaas, sal dit ons vermoë verbeter om misdaad te voorkom en doeltreffend te ondersoek.

“Die kameras sal as waaksame voogde dien,

deur belangrike bewyse vas te lê wat sal help om insidente op te los, en misdadigers vas te trek. Verder sal hul teenwoordigheid as ’n kragtige afskrikmiddel dien,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!