Meester-jaggids Brian Roodt. FOTO ARGIEF
Meester-jaggids Brian Roodt. FOTO ARGIEF

Net trek nouer om vermeende wildmisdadigers

Francoise Steynberg
Die eenheid vir beskermde hulpbronne van die Namibiese polisie en omgewingsministerie trek al hoe nouer om vermeende wildmisdadigers. 'n Bekende boer en jagoperateur van die Otjiwarongo-distrik is Vrydag in hegtenis geneem in verband met die onwettige jag en vervoer van twee krokodille. Hy sal vandag in die spesiale wildmisdaadhof op Otjiwarongo verskyn nadat 'n lewende krokodil en 'n krokodilkarkas op sy plaas gevind is.

Intussen is die vermeende wildmisdadiger en meester-jaggids Brian Roodt (34) weer 'n vry man.

Hy het Woensdag in die Outjo-landdroshof op nóg 'n klag van onwettige jag verskyn en is op borgtog van N$30 000 vrygelaat.

'n Verdagte in die saak, ‘n bekende boer van die Outjo-distrik, moes saam met hom in die hof verskyn. Hy is egter nog nie in hegtenis geneem nie, want hy is tans in ‘n Windhoekse private hospitaal waar hy 'n hartoperasie moet ondergaan. Die verdagte sal eers ná sy operasie moet herstel voor hy in die hof kan verskyn.

Hulle het volgens die klagstaat op die boer se plaas onwettig ‘n impala, bergsebra, vlaktesebra, Damara dik-dik, waterbok, steenbok, rooihartebees, gemsbok, springbok, koedoe, blesbok en rooikat gejag.

Roodt en sy kliënt het volgens die gesamentlike beskermde hulpbronne-eenheid van die Namibiese polisie en omgewingsministerie wel jagpermitte gehad, maar nie vir dié spesifieke plaas nie.

Die jaggids wat ook 'n finalis in die Mnr. Supranational 2023-kompetisie was, is vir die eerste keer op 24 Desember verlede jaar in hegtenis geneem waartydens hy sy eerste verskyning in die rondgaande hof op Dordabis gemaak het. Hy het Kersfees agter tralies deurgebring en op 27 Desember het hy op bykomende aanklagte in die hof verskyn. Roodt is op 28 Desember op borgtog van N$3 000 vrygelaat.

Hy staan tereg op verskeie wildmisdaadsake, waaronder sewe aanklagte in die Dordabis-distrik. Dit hou verband met die versuim om aan natuurbewaringsregulasies te voldoen. Dit sluit in die onwettige jag van beskermde wild (’n luiperd), onwettige jag in die nag en met honde, asook die onwettige besit van ’n luiperdvel en geldwassery.

Roodt het na bewering versuim om ’n jaarlikse jagverslag te voorsien oor waar, wanneer en watter wildspesies hy gejag het, asook die jagtrofeegetalle en name en nasionaliteite van sy kliënte.

In dié verband het Roodt na bewering ook verkeerde inligting verskaf oor ’n seekoeijag met ’n Hongaarse kliënt wat hy nie aangemeld het nie.

Daarna het hy op 6 Augustus in die spesiale wildmisdaadhof in Katutura in die hoofstad verskyn waarna die saak tot 29 Oktober in die Windhoek-landdroshof uitgestel is vir pleit- en verhoordoeleindes. Roodt se verhoor is toe tot 11 Junie 2025 uitgestel omdat sy prokureur, Gilroy Kasper, nie beskikbaar was nie. Roodt is egter op dié dag weer in hegtenis geneem in verband met die beweerde oortreding in die Outjo-distrik waar hy tot Woensdag in aanhouding was.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 18° | 28° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 19° | 28° Gobabis: 20° | 25° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 20° | 29° Mariental: 20° | 31° Keetmanshoop: 19° | 32° Aranos: 20° | 29° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 16° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 29° Lubumbashi: 18° | 20° Mbabane: 19° | 30° Maseru: 17° | 19° Antananarivo: 14° | 29° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 26° | 40° Windhoek: 19° | 28° Cape Town: 18° | 22° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 24° Dar es Salaam: 25° | 29° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 22° #REF! #REF!